Konsertgids: Jennifer Zamudio, Anton Goosen kuier die naweek aanlyn

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir aanbiedings deur hul gunsteling-kunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Donderdag 29 Oktober

Die sangeres Jennifer Zamudio stel haar jongste enkelsnit getiteld “Dalk” virtueel bekend op haar Facebook-blad om 20:00. Die vertoning is gratis, maar daar sal geleentheid wees vir kykers om ʼn donasie te maak.

Die liedjie word eers amptelik uitgereik op Vrydag 30 Oktober en sal op alle groot digitale platforms beskikbaar wees.

Zamudio se Maak dit net lekker-konsert is ook nog op 25 November, 16 Desember en 20 Januarie 2021 aanlyn te sien. Kaartjies kos R80 en is beskikbaar by Quicket.

Vrydag 30 Oktober

Wynand van Vollenstee in ‘Groet die Grotman 2’.

Lefra is volgende aan die beurt met sy produksie van Groet die Grotman 2 om 18:30 in die Mardi Gras-teater by Carnival City.

In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vroue op komiese wyse uitgebeeld. Vroue is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting) en mans steeds die jagters (van ʼn bok tot ʼn televisieprogram).

Die skreeusnaakse Wynand (Karate Kallie) van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman 2, en Frans Swart het die teks geskryf en is ook die regisseur.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Sondag 1 November

Anton Goosen het besluit om sy Anton en Vrinne-vertonings aanlyn te laat herleef met sy program Kaggelkuiers met Anton en Vrinne – elke Sondag om 15:00.

Hierdie naweek word die 17de episode van dié aanlyn, interaktiewe gesels-en-musiekprogram aangebied. Dit is ʼn hoogtepuntprogram wat saamgestel is uit die vorige 16 episodes. Die gaste is onder andere Jan Blohm, Dozi, Valiant Swart, Gian Groen, Hanlie Retief, Frazer en Deniel Barry van Tribal Echo, Lise Swart, Riku en Jackie Lätti, Churchil Naude, Beeskraal, Jakkie Louw, Pietman Geldenhuys, Lochner de Kock en Johrné van Huyssteen, Dana Snyman, Willim Welsyn, Vinnie Henrico en Neil Sandilands.

Jaco van Dyk is Kaggelkuiers se tegniese ghoeroe en sorg vir groot pret en lekker gesels elke week.

Kaggelkuiers is beskikbaar op Anton Goosen se Facebook-bladsy asook op YouTube en Jaco van Dyk se Woes-platforms. Die programme is gratis om te kyk, maar daar is geleentheid vir kykers om ʼn donasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.