Konsertgids: Mzansi-ballet, Thys die Bosveldklong, Francois van Coke die naweek te sien

Joshua Williams is te sien in die Mzansi-balletgeselskap se uitvoering van The Queen Show. (Foto: Facebook)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir aanbiedings deur hul gunstelingkunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Die Mzansi-balletgeselskap se uitvoering van The Queen Show is van Donderdag 3 Desember tot Sondag 6 Desember by Monte de Dios in Pretoria te sien. Die musiek van die rockgroep Queen word gebruik in dié produksie, die eerste professionele balletopvoering in Gauteng sedert die begin van die inperkingstyd in Maart.

Angela Revie (vroeër Malan) en haar man, Michael Revie, is in dié produksie te sien en is ook verantwoordelik vir die choreografie. Michael was voorheen verbonde aan geselskappe in Zürich en Birmingham. Die 18-jarige balletdanser Joshua Williams sluit aan by die rolverdeling van The Queen Show.

Kaartjies kos R200 en is hier beskikbaar.

Saterdag 5 Desember

Thys die Bosveldklong. (Foto: Facebook)

Thys die Bosveldklong is die eerste kunstenaar om op te tree by Leeudraai Safari’s in Limpopo se In die rivier-konsertreeks. Die konsert skop om 16:30 af.

Kampeerplek is ook beskikbaar. Kaartjies vir die konsert kos R150 vir volwassenes en R100 vir kinders. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

Sondag 6 Desember

Sondag is die rocker Francois van Coke in Pretoria te sien by die Park Acoustics-konsert by die Voortrekkermonument. Basson Laubscher and the Violent Free Peace, Yndian Mynah, Zen Garden en #Sozlol is ook tydens die konsert te sien.

Die hekke open om 10:00. Kinders tussen 13 en 17 jaar word nie by die konsert toegelaat nie en bewys van identiteit sal vereis word.

Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R200 en is hier beskikbaar.

Maandag 7 Desember

Die Sempre Opera, in samewerking met die Capital Chamber Orchestra en die Simfoniekoor van Pretoria, onder leiding van die dirigent Schalk van der Merwe, se uitvoering van Camille Saint-Saëns se Oratorium de Noël/Kersfeesoratorio is in die majestueuse Heldesaal van die Voortrekkermonument te sien.

Dié regstreekse uitvoering word ook opgeneem en sal oor die Kerstyd virtueel beskikbaar wees. ʼn Gedeelte van die opbrengs van kaartjieverkope vir die konsert asook die aanlyn konsert word geskenk aan die Voortrekkermonument se Herbou die Monument-fonds.

Om aan Covid-19-regulasies te voldoen is daar slegs ʼn beperkte aantal kaartjies beskikbaar vir die konsertopname by die Voortrekkermonument en konsertgangers sal verplig word om maskers te dra.

Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.