Konsertgids: Woon dié konserte hierdie feesseisoen by

Joshua na die Reën.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir aanbiedings deur hul gunsteling-kunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Saterdag 19 Desember

Die sangeres Luna Paige reis vandeesmaand vanuit Stellenbosch al langs die kus om haar musiek en lirieke met aanhangers te deel. Ná die lang inperking weens die Covid-19-pandemie is daar vele nuwe liedjies wat sy met gehore wil deel voordat sy in 2021 aan haar nuwe album begin werk.

Paige se musiek word in Afrikaans en Engels aangebied. Sy skep met haar lirieke ʼn veilige hawe vir almal waarbinne hulle hul gedagtegang kan loslaat en verken.

Paige is Saterdag te sien by die Artspace se Diaz-museum in Mosselbaai om 19:30. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by 083 268 3718.

Sondag 20 Desember

Joshua na die Reën en Leon Gropp is Sondag te sien in Jongensdal tussen Jongensfontein en Stilbaai in die Wes-Kaap.

Kom luister hoe hierdie twee kunstenaars se stemme saamweef en maak ʼn onvergeetlike aand saam met hulle mee.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos tussen R100 en R300 en is hier beskikbaar.

Die Klein Karoo Klassique-ensemble en die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes is Sondag te sien in ʼn aanlyn Kerskonsert. Die konsert is ten bate van die jeugorkes.

Die konsert is 45 minute lank en sluit werke soos Gaudete (onbekend), Nun komm, der Heiden Heiland (JS Bach), Sinfonia to Cantata no. 29 (JS Bach) en Sinfonia V van Six Symphonies en quatuor, contenant les plus beaux Noëls Francois et étrangers (Michel Corrette) in.

Vir die eerste keer in 57 jaar sal die volledige orkes nie in die vertoning te sien wees nie, maar slegs ʼn kleiner ensemble wat bestaan uit Gilah Kellner (viool), Jason Oppelt (viool), Kamohelo Moshoaliba (viola), Vaughan McLea (tjello), Kyle Smith (dubbelbas) en John Reid Coulter (klavesimbel).

Die konsert sal van Sondag 20 Desember tot Donderdag 31 Desember om middernag beskikbaar wees. Die kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

Dinsdag 22 Desember

Die Blou Hond-teater by Casa Toscana in Pretoria bied ʼn asemrowende Somerkersfees-kerskonsert aan wat hierdie feestyd soveel beter sal maak. Die konsert word saamgestel deur Barry Pretorius van Afrikaans is Groot.

Kunstenaars sluit in Ruhan du Toit, Monique Steyn, Dewald Wasserfall, Ivan Roux, Corlea Botha, Wilha Carstens en Bibi du Preez.

Die konsert en ʼn driegangmaaltyd kos R600. Kaartjies is hier beskikbaar. Die konsert word ook op Woensdag 23 Desember aangebied.

Oujaarsaand (Donderdag 31 Desember)

Skakel in vir Karen Zoid se “Zoid Afrika Oujaarspartytjie”, ʼn regstreekse aanlyn uitsending vanuit die Mothership-ateljee in Kaapstad.

Dié ses ure lange geleentheid sluit verskynings deur bekende gaste uit haar televisiereeks Die Republiek van Zoid Afrika in, en eindig met ʼn konsert deur die Karen Zoid-orkes.

Kaartjies kos R195 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.