Kruie as kultuur- en natuurhistoriese erfenis

Argieffoto

Argieffoto

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument werk tans saam met Montagu Museum aan ‘n projek om kruie as kultuur- en natuurhistoriese erfenis te bevorder en bewaar.

Die twee museums beplan ‘n kompetisie, ‘n kruie-markdag, ‘n kuierprogram én ‘n onderwyserspakket om die fokus te plaas op inheemse kennis van kruie en die gebruike daarvan. Volgens Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Taalmuseum, wil hulle graag gesprekvoering rondom verskillende fasette van kruie aanmoedig. “Ons sal staaltjies, gebruike en rate opteken, en alle bevindings dokumenteer en bewaar. Hierdie inligting sal na afloop van die projek by die onderskeie museums en plaaslike biblioteke beskikbaar wees,” het Snel gesê.

Die projek skop in Oktober 2013 af met ‘n uitnodiging aan die publiek om kruiewenke en -rate in te stuur as deel van ‘n kompetisie. Ter viering van internasionale Museumdag in Mei 2014 word ‘n Kuier rondom Kruie-program beplan waar mense stories, wat betrekking het op kruie, met mekaar kan deel.

Op Erfenisdag, 24 September 2014, sal belangstellendes hul produkte by ‘n spesiale kruie-markdag te koop kan aanbied. Die museums sal ook inligting oor die maak van dié produkte insamel.

‘n Onderwyserspakket oor kruie, gemik op graad 5-leerders, sal aan die einde van die projek saamgestel word en in 2015 beskikbaar wees.

Neem deel aan die kompetisie: stuur jou kruiewenke en -rate na [email protected] of kontak vir Henna Flesch (tel. 023 614 1950) of Annette Cilliers (tel. 023 614 1774) by Montagu Museum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.