Kuns is dié dokter se medisyne

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Owen, gebore in die Noord-Kaapse dorpie Postmasburg, het sy grootwordjare deurgebring aan die Weskus en het aan Hoërskool Vredenburg matrikuleer. Ná skool het Owen BSc- en MBChB-grade aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy eerste internskapjaar het hy gedoen in Bethlehem in die Vrystaat en daarna teruggekeer Kaap toe om by Tygerberg Hospitaal te werk.

“Nadat ek my gemeenskapsdiens voltooi het, het ek vir ʼn jaar gewerk as skrywer en dokter by Media24. Dit was glad nie klinies verwant nie, ek het as skrywer gewerk, raadgewend opgetree vir mediese inhoud en het brekende gesondheidstories toeganklik vir die publiek gemaak, soos die opspraakwekkende eerste penisoorplanting.”

Daarna het Owen voltyds ʼn geneesheer in privaat praktyk geword. Tydens sy GP-jare was Owen die aanbieder van twee gewilde televisieprogramme op VIA, Die Eet Oorlog en Dokter, Dokter.

Na jare in praktyk het Owen weer teruggekeer na Tygerberg om sy mediese studies voort te sit en te spesialiseer in chemiese patologie. “Chemiese patologie is ʼn uitdagende veld in die sin dat dit ʼn kombinasie van tegnologie, medisyne en patologie is. Chemiese patoloë werk met die water-gedeelte van bloed, waar ons spesifiek kyk na die chemiese samestelling daarvan in gesondheid en siekte.”

Owen vertel dat hy nooit enige kunsopleiding gehad het nie. “Ek het altyd gevoel dat ek dink soos ʼn kunstenaar ten spyte van my werk. Tot vandag toe het ek myself nog altyd bevind in kliniese omgewings, waar daar nie spasie is vir foute of kreatief wees nie, wat ook maar goed so is want ʼn mens raak nie kreatief met menselewens nie.

“Kort voor een van my eksamens, het ek vir die eerste maal in my lewe ʼn kwas opgetel en ek het absoluut géén idee gehad wat om te doen nie. Tog was dit so bevrydend. Die idee dat daar letterlik geen reëls is nie – ek kan doen wat ek wil en hoe ek dit ook al wil doen. Dit was ʼn waterskeidingsoomblik en vir die eerste keer ooit het ek meer intensief begin oplet na kleur, spasie, tyd, vorm en hoe alles inmekaar skakel.”

Owen vertel dit was so anders as medisyne wat ʼn ander “kunsvorm” is. Nou was daar ʼn balans wat hy glad nie voorheen geken het nie en hy het gevoel en gedink soos ʼn kunstenaar.

Hy sê inspirasie volg hom eerder, as wat hy dit gaan soek. “In my werke, wat wissel van hiper geometriese werke tot totaal intuïtiewe abstraksie, is daar soveel elemente van myself, hoe ek dink, hoe ek myself in spasie en tyd sien en ervaar. Ek het begin met akriel, omdat dit so vergewensgesind is. Mettertyd het ink, grafiet en pastel bygekom wat my ʼn hele paar lesse geleer het, veral die feit dat nie alle materiale ewe veel van mekaar hou nie.”

(Foto: Verskaf)

Kort voor lank het Owen spuitverf ontdek, wat sy hele aanslag tot kuns verander het. “Dit is ʼn ongelooflike moeilike medium om mee te werk wat geen foute verdra nie. Dit was die naaste aan wat ek my lewe ken – orde, respek vir die medium (en werk), verdraagsaamheid, beplanning en kalmte.”

Owen verkies om op skilderdoek en houtborde te werk wat hy spesiaal laat maak. “Ek is redelik spesifiek ook die oppervlaktes en die materiale wat ek gebruik, juis omdat die werke redelike akkuraatheid (soos die geval is met geometriese werke) vereis. Piet Mondrian, Josef Albers en Mark Rothko is my gunsteling-kunstenaars.

My beroep – ten spyte van die absolute presiesheid daarvan – inspireer my tog. Ek werk daagliks met syfers, statistiek en die elegansie van hoe die menslike liggaam in siekte en in gesondheid funksioneer. Dit is ʼn ongelooflike bron van inspirasie deurdat ʼn mens na dinge met ander oë kyk. Kleur en vorm is dikwels meer as wat ʼn mens op die oog af sien.”

(Foto: Verskaf)

Owen se vriendin, Rachel Jafta, ʼn sakevrou en professor in ekonomie, en sy wederhelf, Rohan Swanepoel, ʼn musiekonderwyser, is sy grootste ondersteuners en muses. Hulle is die eerste mense wat enige voltooide werk sien en hom aanspoor en aanmoedig.

In minder as ʼn jaar het ʼn paar groepuitstallings gevolg: Art is Art, Woodstock, twee uitstallings by Rust en Vrede in Durbanville en RK Contemporary op Riebeeck Kasteel. Op internasionale front is Owen genader deur ʼn baie bekende versamelaar en galery-eienaar, Drew Aaron, en tans word sy werke uitgestal by GalleryRed in Spanje. GalleryRed is ook Owen se verteenwoordigende galery.

“Kuns het stilletjies my lewe kom verander in soveel opsigte. Ek is half kunstenaar, half dokter. Sommige dae meer die een as die ander, en vir my is dit wonderlik.”

Owen sê hy droom van ʼn kunsloopbaan wat wyd strek, uitstallings by kunsskoue soos die Cape Town Art Fair, Art Basel en Venice Biennal. “Ek droom in kleur en vorm en oor ʼn toekoms waar ek met my werk ʼn verskil kan maak. Kuns laat my anders dink oor dinge. Ek besef daar is meer as net een aspek tot ʼn saak. Ek het nou die geleentheid om hoe ek voel, my ervarings en my idees uit te druk op ʼn alternatiewe maniere. Kuns leer ʼn mens ook dat daar ʼn rede en funksie vir elke lyn, elke kleur en elke beweging is. Dit is seker hoekom ek so tuis voel voor die skilderdoek.”

Owen voel dat die wonder van abstrakte en geometriese werk daarin lê dat elke mens wat na sy werke kyk self kan besluit wat hulle daaruit wil hê. “Dit is soos om al die bestanddele van ʼn gereg vir iemand te gee en te sê: ‘Hierdie is alles wat jy gaan nodig hê vir ʼn maaltyd, maar jy kan self besluit hoe dit smaak’. As mense na my werke kyk en selfs net vir ʼn oomblik wonder, dink en iets ervaar, dan is dit vir my wonderlik.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.