‘Kunsrevolusie’ lê voor by vanjaar se Aardklop

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop. (Foto: Aardklop)

Aardklop is al bekend as die plek waar die room van Suid-Afrika se kunstenaarswêreld jaarliks bymekaarkom en te oordeel na vanjaar se program, behoort vanjaar ʼn beter ervaring as ooit in te hou.

Talle van die toonaangewende kunstenaars was gisteraand by die Atterbury Teater in Pretoria teenwoordig waar die program vir die 2019-fees bekendgestel is. En dié program is behoorlik indrukwekkend met die grootste name in die kunste wat vanjaar op die planke te sien sal wees.

Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Kellermann, Jana Cilliers, Dawid Minnaar, Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Deon Meyer en Rolanda Marais is maar net ʼn paar van die kunstenaars wat deel van produksies by vanjaar se fees sal wees.

Alexa Strachan, feesbestuurder, het aan die uitgelese gehoor by die bekendstelling gesê vanjaar se fees is ʼn “kunsrevolusie” met net die beste produksies wat aan feesgangers gebied sal word. “Vanaf 24 tot 29 September sal feesgangers die moeilike taak hê om te kies uit die smorgasbord toneel, musiek, visuele kuns, boek- en aktuele gesprekke, kinderteater en leefstyl-ervarings wat aangebied word,” het sy gesê.

Een van die hoogtepunte by vanjaar se fees is die produksie Koningin Lear met onder andere Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, André Roothman, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling. Dié produksie is ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear, verwerk deur Tom Lanoye en briljant vertaal deur Antjie Krog.

Kenners het Kellermann se vertolking in dié stuk as “die rol van haar loopbaan” beskryf en Marthinus Basson se manjifieke meestershand in hierdie oorrompelende produksie is eenvoudig onmisbaar. Die produksie is met agt Kanna-pryse by KKNK bekroon en volgens Strachan was daar by hulle geen vrae te vra nie – die produksie moes eenvoudig ook Aardklop toe kom.

Mathys Roets, Christo Davids, Frank Opperman en Anna Davel by die Aardklop-programbekendstelling in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Nog ʼn produksie wat beslis talle teatergangers gaan lok, is Kamphoer, met Sandra Prinsloo wat die verhaal van Susan Nell vertel. Kamphoer, die topverkoper-roman van Francois Smit, en The Boer Whore, die niefiksie-publikasie van Nico Moolman, vertel die verhaal van Nell wat tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag en vir die dood agtergelaat is voordat haar pad jare later weer met dié van haar verkragter kruis.

By vanjaar se Aardklop sal Jana Cilliers en Dawid Minnaar te sien wees in die debuutwerk Wilde-als, ’n toneelstuk oor herinnering, verromantisering, die naakte waarheid en die liefde.

Nog ʼn debuutproduksie om na uit te sien, is Francois Toerien se verwerking van Marieta van der Vyver se bekende roman, Dinge vann kind. Dit word aangebied as ’n eenvroustuk met Cintaine Schutte, wat onder meer te sien was as die vuurvreter Katrien in die televisiereeks Fynskrif en in die rol van Masha in Die seemeeu.

Christo Davids, in 2018 bekroon met ses Aardklop-toekennings vir My seuns, bring vanjaar Queenie-hulle na die Aardklop-verhoog. Met onder andere Louw Venter, Brendon Daniels en Jill Levenberg vertel dié produksie die storie van ’n groep bergies wat die trappe by die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad huis noem. Queenie daag op met ’n brief van die stadsraad om hulle uit dié blyplek te sit, maar die klomp besluit hulle gaan dit nie sommer net so goedsmoeds aanvaar nie. ʼn Produksie wat teatergangers sal laat lag én huil.

Die gewilde Joshua na die Reën, wat ook by gisteraand se bekendstelling was, sal vanjaar sy jongste produksie, Vlieërs, na Aardklop bring en saam met Liani Reynolds op die verhoog wees.

Ansu Visser en Mila Guy by die Aardklop-programbekendstelling in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Op die musiekfront debuteer Charl du Plessis met sy eerste soloklavierprojek – Solo. Klassieke en populêre musiek vloei ineen in hierdie bekroonde Steinway-kunstenaar se nuwe produksie.

Frank Opperman speel in Donkie ʼn 58-jarige skoolhoof wat onder ernstige druk is. Die skool presteer nie op akademiese óf sportvlak na wense nie en hy oorweeg dit om te bedank. Die teks vir die produksie, wat by KKNK uitverkoop was, is deur Dana Snyman geskryf.

Nog ʼn skreeusnaakse produksie om na uit te sien, is Die intermissie, ʼn sketskomedie met Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Bouwer Bosch, Mila Guy, Barbara Brasington en Beer Adriaanse.

Die voordele van eierwit met Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm, uit die pen van Retief Scholtz, vertel van twee susters wat in ’n hysbak vassit. ’n Komiese drama – lag met ’n traan.

Amanda Strydom het tydens die programbekendstelling die gehoor ʼn voorsmakie gegee van haar produksie Miss Mandy wat by vanjaar se fees te sien sal wees.

Christo Davids by die Aardklop-programbekendstelling in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Dit is net een van vele musiekproduksies wat vanjaar op Aardklop sal skitter – Karen Zoid, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo-suite, Kombi-Nasie met Wicus van der Merwe en Pietman Geldenhuys, O, my Folk met onder andere Koos Kombuis, Herman Kleinhans, Bottomless Coffee Band en Johrné van Huyssteen, Refentse, Loki Rothman en Albert Frost, Mathys Roets en Dana Snyman, sal almal by die fees te sien wees.

Strachan het gesê die feesbestuur het natuurlik nie van die kinders of die lekkerbekke vergeet nie. Afgesien van die magdom produksies sal daar ook interaktiewe dramaklasse, werksessies en heerlike vermaak vir kleuters en laerskoolleerders op die feesterrein wees. Feesgangers sal ook kan smul aan heerlike feeskos, proe aan brandewyn, gin, vonkelwyn en whisky, kuier met ʼn glasie wyn om die vuur, en snuffel tussen meer as 500 kos- en kunsvlytstalletjies.

Kaartjies vir Aardklop sal vanaf 24 Junie by Ticketpro te koop wees. Toegang tot die feesterrein kos R30 per dag of R75 vir ʼn weekskaartjie. Toegang vir kinders onder 12 is gratis. Die feesterrein sal oop wees van 24 tot 29 September.

Besoek Aardklop se webblad of Facebookblad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.