Lawton Roberts se skeppings uit die see

Lawton Roberts maak die mooiste kuns uit skulpe. (Foto: Abalonecreations.co.za)

Deur Yolanda Wessels

Lawton Roberts was van kindsbeen af kreatief en alhoewel hy deur die jare sy hand aan verskeie projekte gewaag het, het hy sy lees gevind met die ontwerp van spieëls en muurhorlosies – kunstig en tydsaam met perlemoenskulpe gemaak.

Kreatiewe mens

(Foto: Verskaf)

Gebore en getoë in die Kaap het Lawton sy skoolloopbaan begin in die derde oudste dorp in Suid-Afrika, die prentjiemooi Swellendam. In 1976 het hy aan DF Malan gematrikuleer en alhoewel hy erken dat sy studies maar ʼn bysaak was, was sy gunstelingvakke biologie, aardrykskunde en houtwerk. “Ek was mal oor sport en was aktief by gholf, krieket, rugby, bofbal en swem betrokke. Ek het ook kuns as vak geneem en dit het deurentyd een van my groot liefdes gebly.” Lawton vertel dat hy ʼn baie praktiese mens is en nog altyd die gawe gehad het om iets te maak wat hy gesien het. “Dit was nog altyd vir my heerlik om na ʼn interior winkel te gaan, rond te kyk en as ek iets moois en uniek sien, huis toe te gaan en dit dan te maak. Ek maak so dan en wan ʼn meubelstuk en geniet dit baie.”

Die aanbreek van ʼn nuwe seisoen

Lawton is ʼn groot natuur- en diereliefhebber. Hermanus is dus die ideale tuiste vir hom waar hy hom in 1992 gevestig het. “In daardie jare was daar nie eers een kettingwinkel of verkeerslig in Hermanus nie! Ek het vir sewentien jaar die vakansieoord Lakeview Chalets bedryf en het wonderlike vriende gemaak van dwarsoor die wêreld. Die grond waarop die oord gestaan het, is oorspronklik deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gebruik, alhoewel dit aan die munisipaliteit behoort.” Lawton vertel dat die spieëlstorie eintlik heel toevallig gebeur het nadat hy een pragtige oggend in 2010 op die strand gaan stap en die pragtigste blink perlemoenskulp, blink geskuur deur see en sand, in ʼn rotspoel gesien het. “Ek het dit opgetel en daar en dan besluit om iets daarmee te doen. Dit was net te besonders om daar te bly lê en verweer! Die skulpe is organies en natuurlik en geeneen lyk dieselfde nie. Ek was lus vir ʼn kreatiewe onderneming en omdat niemand anders nog iets daarmee gemaak het nie, was die mark vir my oop om iets unieks te doen.” Dít was die begin van ʼn nuwe avontuur en het spoedig al sy tyd in beslag geneem!

Lawton lag: “Dit is geweldig tydrowend, g’n wonder niemand anders doen dit nie! Dié skulpe was voorwaar ʼn nuwe begin, want omdat niemand anders dit doen nie, kan ek nie idees “steel” nie en moet ek alles self uitdink.” Gelukkig, met sy agtergrond in houtwerk en kuns en al sy ervaring waar hy self meubels ontwerp en gemaak het, was dit ʼn lekker uitdaging.

ʼn Nuwe onderneming

(Foto: Verskaf)

“My eerste mosaïekspieëlraam het in my werkswinkel gehang toe een van my vriende daar instap. Hy vra toe waar ek dit gekry het, waarop ek toe antwoord dat ek dit gemaak het. Hy wou dit met alle geweld hê! Die enigste voorwaarde was dat ek dit voor die Vrydagaand, wat sy verjaarsdag was, ophang. Ek het nog gesê ek glo nie ek sal ooit weer so iets maak nie, dis net té intens. Ek het gereken hy sal die enigste mens op die planeet wees met so ʼn spieël! Die Vrydagaand stap nog ʼn vriend daar in en bestel onmiddellik een!” Die res is, soos die spreekwoord sê, geskiedenis. ʼn Nuwe onderneming is gebore …

Om ʼn beter perspektief te gee op wat die maak van só ʼn spieël behels, vertel Lawton dat daar 2 033 teëltjies is in die eerste spieël wat hy gemaak het. Aangesien die uithaal van perlemoen verbied word, gebruik hy skulpe wat hy by die kommersiële perlemoenplase op Hermanus kry. Om die teëltjies uit die skulp te kry, moet hy vier snye maak, daarna nog vier snye om dit perfek vierkantig te kry, en dan benodig dié wat op die kante sit nog ʼn verdere sny of twee. Dus, na voltooiing van die spieëlraam, is daar 17 009 snye gemaak! Die totaal is moontlik nader aan 30 000 snye, want soms moet hy dit oor en oor doen tot dit perfek is. Dit is waarom só ʼn projek tot ses of sewe weke neem om te voltooi.

Kreatiewe skepper

Van die ander kunswerke wat Lawton maak, is rame met verskillende tipe skulpe asook pragtige groot muurhorlosies. “Dit het begin toe ek deur Homemakers Expo genooi is om aan ʼn kompetisie deel te neem waar horlosies gemaak word. Dit is geweldig gewild en ek het onlangs begin om, behalwe met perlemoenskulp, ook swartmosselskulp te gebruik.” Dít is ʼn groot uitdaging want dié skulpe het baie min plat oppervlakte en hy moet baie mooi soek vir die plek waar hy die skulp kan sny. Hy spandeer gemiddeld agt tot twaalf ure per dag aan dié onderneming. Veral as hy ʼn sperdatum het, moet hy woeker om betyds klaar te kry. Lawton is baie prakties en maak al die spieëlrame self. Die horlosies se vorms laat hy egter deur My Design, ʼn plaaslike maatskappy op Hermanus, uitsny. Sy kunswerke is glad nie kommersieel beskikbaar nie en hy maak dit slegs op bestelling. Van die kunswerke wat bestel word, moet oorsee versend word. Hiervoor moet dit sorgvuldig in borrelplastiek toegedraai word, versigtig in ʼn houtkrat met koerantpapier verpak word, en daarna moet die raam en krat as kewervry deur ʼn plaagbeheerder gesertifiseer word. “Dan moet ons hoop vir die beste dat dit in een stuk sy bestemming bereik!” Van die plekke waarheen hy al uitgevoer het sluit in Carlsbad in Kalifornië en Dallas, Texas in die VSA, asook ʼn seekosrestaurant in Hong Kong en hotel in Mauritius. Hy ontvang ook gereeld navrae uit ander wêrelddele en as ʼn mens na die uniekheid van sy kunswerke kyk, is dit beslis geen wonder nie!

(Foto: Verskaf)

Passies

Een van die redes waarom sy ontwerpe so vinnig in gewildheid toeneem, is omdat dit so tydloos is. Dit kan in enige plek gehang word en pas in by enige modegier, van ʼn strandhuis op ʼn kusdorp tot ʼn stylvolle, glansryke gastehuis in die stad. “Mense is gaande oor die personal touch van my ontwerpe asook die feit dat geen twee dieselfde is nie.” Hy is ook gaande oor gholf en soos hy sê: “Golf is not a sport, it is a way of life! Ek was nou wel nie eerste in die ry toe gholftalent uitgedeel is nie, maar het vir baie jare vir Bellville Gholfklub, waar ek as junior begin speel het, liga gespeel en was ook deel van die span toe ons die liga gewen het. Ek het ook baie jare vir Hermanus liga gespeel en hier het ons ook die Boland-liga gewen. Ek kon darem die SAUK se toernooi drie jaar na mekaar in Johannesburg ook wen. Deesdae speel ek net vir die lekkerte!” Hy vertel dat sy broer Alan eintlik die gholfster is en sy eie dogter, Kaylah, reeds op 14-jarige ouderdom haar merk in die gholfwêreld gemaak het as een van die beste amateurs wat vrouetoernooie in Suid-Afrika gewen het! Voorwaar ʼn uitstekende prestasie.

Lawton vertel dat hy sy twee seuns, Michael en Jonathan, geweldig mis. “Michael is die hoofbaanopsigter van die enigste gholfbaan in Zanzibar, Sea Cliff Resort and Spa, en Jonathan is ʼn persoonlike afrigter by Evolve Health and Fitness in Doha, Katar.” Hy bestee egter al sy tyd aan sy kleurvolle handewerk, altyd aan die dink, soek en skep na iets nuuts en uniek wat plesier aan ander se lewens kan bring. Met sy entoesiasme gaan nog heelwat uitsonderlike kunswerke die lig sien en ander se lewens elke liewe keer wanneer hul voor een van sy pragspieëls of horlosies verbystap, ophelder.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.