Legendes gegroet, Naomi wys wie’s loopplankbaas by Parys-modeweek

Chanel het ʼn swart, monochromatiese versameling gehad. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Die Parys-modeweek is een van die tweejaarlikse hoogtepunte van talle ontwerpers en invloedryke modeliefhebbers se kalenders en het vanjaar oudergewoonte prag, praal en talle BBP-gaste gelok.

Die vier grootste modeweke word jaarliks in Februarie en September in New York, Londen, Milaan en Parys aangebied om die lente/somer- en herfs/winter-versamelings ten toon te stel.

Die Parys-modeweek word dikwels beskou as die stylvolle noot waarop dié internasionale skouspelagtige geleenthede afgesluit word.

Franse modehuise vier tydlose, vroulike styl

Franse handelsmerke soos Dior, Balmain en Saint Laurent is volgens modekenners deur hul onderskeie modehuise se oorspronklike, tydlose style geïnspireer.

Maria Grazia Chiuri, die eerste vrou wat aangestel is om die ontwerpspanne van die beroemde huis van Christian Dior te lei, het vanjaar se eerste versameling gebaseer op drie 1950’s ikone wat vroulike stereotipes van hulle tydperke uitgedaag het, naamlik Catherine Dior, suster van Christian Dior, en die bekende Franse sangeresse Juliette Greco en Edith Piaf.

A-lyn-rokke, pof moue en beklemtoonde middels was aan die orde van die dag by Dior. (Foto: Instagram/Dior)

Dior, tesame met Balmain, het effens vasgeskop teen die terugkerende informele, los style van die 1990’s mode en gefokus op ontwerpe wat die vroulike figuur beklemtoon. A-lyn-rokke, pof moue en beklemtoonde middels was aan die orde van die dag.

Balmain en Yves Saint Laurent-modelle het in klassieke, dog 1980’s geïnspireerde modes gepronk met elemente soos skouerkussings, peplum-rompe en groot strikke.

Saint Laurent het met 1980’s geïnspireerde modes gepronk. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Chanel, die laaste modevertoning van Parys-modeweek, het ʼn swart, monochromatiese versameling gehad met skakerings van rooi, pink en pers wat hier en daar as ʼn aksent gebruik is. Dié Franse modehuis se kenmerkende tweed-materiaal is op alles van mini-rokkies en jasse tot bloese te sien gewees.

Parys-modeweek is met die Chanel-modevertoning afgesluit. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

In teenstelling hiermee het ander internasionale handelsname soos Ellie Saab en Stella McCartney dapper en treffende herfskleure, opvallende blomafdrukke, romantiese teksture en dramatiese silhoeëtte beklemtoon.

Modehuise soos Louis Vuitton en Valentino het tradisionele, netjiese drag soos pakke, dasse en aandrokke met alledaagse kledingstukke vervleg, en hulle ook nie gesteur aan konvensionele manlike of vroulike style nie.

Legendes gegroet

Franse modeskare het “adieu” gesê vir twee groot modename van die 20ste eeu, die Britse modeontwerper Vivienne Westwood en die Spanjaard Paco Rabanne.

Westwood, wat graag musiek en mode byeengebring het om punk te help definieer, en rebelse politiek na die loopplank gebring het, is op 29 Desember in die ouderdom van 81 oorlede.

Haar wewenaar, Andreas Kronthaler, het gehelp om ‘n “trefferversameling” met nuwe weergawes van haar ikoniese seerowerstewels, korsette, onderrokke en platformskoene tydens die Parys-modeweek aan te bied.

Vivienne Westwood in 2002. (Foto: PIERRE VERDY / AFP)

Vir die afskeid van die eksentrieke Spanjaard Paco Rabanne, wat in Februariemaand in die ouderdom van 88 gesterf het, is ‘n reeks ikoniese rokke uit die argiewe ten toon gestel om die vertoning mee af te sluit.

Modes van die Paco Rabanne-loopplank. (Foto: Instagram/Paco Rabanne)

Paco het in die 1960’s bekendheid verwerf vir sy gebruik van onkonvensionele materiale in sy klere soos metaal en plastiek asook sy inkorporering van futuristiese elemente en ruimtetydperk-style in sy ontwerpe.

Naomi wys wie is baas

Naomi Campbell, een van die oorspronklike “supermodelle”, het die skare verras met twee verskynings op die handelsmerk, Off White, se maanlanding-geïnspireerde vertoning.

Die 52-jarige is deesdae kieskeurig met haar loopplankkeuses en het dié vertoning op ʼn hoë noot in ʼn deursigtige swart nommertjie met ʼn treffende kraag afgesluit.

Beckhams herenig

Die voormalige Spice Girl, Victoria Beckham, is deesdae meer bekend vir haar mode as haar musiek, en het vandeesweek vir die tweede keer met haar VB by Victoria Beckham-versameling op die Franse loopplanke gespog.

Die Beckham-gesin. (Foto: Instagram/Victoria Beckham)

Victoria en haar man, David Beckham, is ook met hul oudste seun, Brooklyn, by die modeweek herenig.

Brooklyn en sy vrou, die Amerikaanse model, Nicola Peltz, het die afgelope feesseisoen in die VSA deurgebring. Daar word bespiegel dat Nicola en haar skoonma nie om dieselfde tafel sit nie, maar die egpaar het Victoria tydens haar vertoning ondersteun.

Dié jong paartjie het in April 2022 hul troubeloftes tydens ʼn uitspattige drie dae lange fees in Palm Beach, Florida in die VSA, behoorlik gevier en woon tans in die VSA.

Die Beckhams se twee ander seuns, Cruz en Romeo, het ook by die familie aangesluit om Brooklyn se 24ste verjaarsdag in Parys te vier.

Ander bekendes soos die aktrise Zendaya, die Jonas Brother-sanger, Nick Jonas en sy vrou, die aktrise Priyanka Chopra-Jonas, en die sanger Halsey het ook vandeesweek die koppe in kleurvolle (en met tye uitspattige) modes laat draai.

Bronne: AFP, Vogue, Hello!, Woman and Home.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bolletjie blom ·

As dit mode is dan bly ek maar eerder uit die mode uit. Die klere is verskriklik lelik.

Erika ·

So baie spoke saam op een verhoog …. nee wat ek is nou beslis nie mode poppie nie. Sal dit nie eers gebruik vir vloer lappe nie. Modelle lyk soos iets uit riller!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.