Luister: Dié podsendings is vanjaar die meeste op Maroela geluister

Maroela Media bied graag luistergenot aan sy lesers. Vanjaar is dié vyf podsendings die meeste op Maroela Media geluister:

  • Boer kry ʼn vrou … én ʼn sangmaat!

Richann (30), een van vanjaar se topvyf boere van die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou, en René (26), het op die 13de seisoen van die program ontmoet en dadelik besef hulle gedeelde passie vir musiek is iets wat hulle gemeen het.

Richann, wat deeltyds musiek maak en heeltyds boer op Vredefort in die Vrystaat, het ingeskryf vir die reeks omdat hy na ʼn metgesel gesoek het en die uitbundige, Bloemfonteinse nooi met die engelstem het blitsvinnig sy hart gesteel.

Hulle het kort ná afloop van die seisoen van Boer soek ʼn vrou aangekondig dat hulle as die sangduo Reën ʼn enkelsnit getiteld “Vrystaat vlaktes” uitgereik het.

Hoewel die liefdesverhouding intussen skipbreuk gely het, het Richann en René besluit om steeds aan te hou sing en het onlangs ʼn opvolgsnit getiteld “Stof” uitgereik.

Richann en René het in April in Maroela Media se ateljee gesels. Luister hier:

  • Maroela-leser se ode aan Morné Steyn

Johnny Vermeulen en Morné Steyn. (Foto: Verskaf)

Toe die Springbok-losskakel Morné Steyn in Augustus vanjaar vir die tweede agtereenvolgende Leeus-toer die Britte se harte breek, het Johnny Vermeulen besluit dit is tyd om die liedjie wat hy oor sy rugbyheld geskryf het met die wêreld te deel.

Vermeulen, wat kleintyd al leer kitaar speel het, het die volgende dag in sy tuisateljee gesit en speel toe die idee van ʼn liedjie oor Steyn by hom opgekom het.

Vermeulen, ʼn pensioenaris van Pretoria en stoere rugbyondersteuner, het aan Maroela Media vertel dat die 37-jarige Steyn sy held is.

Dié liedjie het eers onder in die laai beland, maar toe Steyn in Augustus weer met sy goue skopvoet die rugbywêreld aan die gons het, het hy besluit om ʼn laaste versie oor Steyn se jongste sege by te voeg.

Daarna het hy die kans gewaag en die liedjie vir Maroela Media aangestuur. Maroela Media het dié liedjie in September vanjaar gedeel. Luister hier:

  • Bok vier 15 jaar ná ‘De la Rey’ met nuwe uitreiking

Bok van Blerk. (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Bok van Blerk het in Maart vanjaar 15 jaar in die musiekbedryf gevier sedert sy gewilde lied “De la Rey” die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers verower en hom een van Afrikaans se grootste kunstenaars van alle tye gemaak het.

Hy het in Maroela Media se ateljee gesels oor dié mylpaal en sy enkelsnit getiteld “Dis wie ons is”. Luister hier:

  • Onthou jy nog vir Francois en Elizabeth Fourie?
francois-fourie-elizabeth-fourie

Francois en Elizabeth Fourie. (Argieffoto)

Maroela Media het in Februarie vanjaar met die sangpaar Francois en Elizabeth Fourie gesels oor die mooiste herinneringe en grootste treffers uit hulle meer as drie dekades in die musiekbedryf.

Op ʼn vraag oor wat die suksesresep agter “Wil jy dans, Carina?” was, het Francois geskerts dat hy wens hulle het geweet, want dan sou hulle beslis nog minstens tien sulke liedjies geskryf het.

“Dié liedjie het vir ons die pad oopgemaak na ʼn loopbaan wat ons nooit beplan het nie, maar dit is ʼn bonus wat ons tot vandag toe nog koester.

“En ja, ek is dikwels aangespreek as Carina,” het Elizabeth vertel. Luister hier:

  • Demi Lee sing vir die Here, haar ma in nuwe album

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

Demi Lee Moore se vollengte-album getiteld Jy ken my naam het in Desember vanjaar die lig gesien.

Die titelsnit van die album sinspeel dalk op die feit dat die meeste Afrikaanse musiekluisteraars weet wie Demi Lee is, maar dié liedjie is eintlik vir haar ma geskryf. Elvis Blue en Riaan Benadé het saam met Demi Lee aan dié liedjie geskryf.

“Alles wat ek vandag het en wat ek is, is danksy my ma. Toe ons die dag hier sit, het ek vir hulle gesê ek wil graag ʼn liedjie vir my ma skryf. Elvis het ʼn natuurlike manier om ʼn storie met sy woorde te vertel. Hulle twee is liedjieskrywers van formaat – ek het my idees gegee en hulle het daarmee gewerk. Dit is uiteindelik my gunstelingliedjie op die album,” het Demi Lee aan Maroela Media in die Coleske Artists-ateljee in Pretoria vertel.

“Ek skerts altyd en sê my naam moes eintlik Demi Lee ‘Break-up Songs’ Moore gewees het, want dit is al waaroor ek sing.

“Maar wat anders? ʼn Mens sing mos maar gewoonlik oor die liefde, dit kom net in verskillende vorme voor. Die gebroke liefde, die liefde vir my ma, die liefde vir my musiek. Die album is beslis ʼn lekkerluister-album en met die vervaardiging het ons algaande ʼn country-styl gekies en ek is bly ons kon dit met die pop-element vermeng,” het Demi Lee gesê.

Luister hier:

Luister al die podsendings wat vanjaar deur Maroela Media opgeneem is hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.