Luister: Vind hiér uit waar om fees te vier

Sarel du Plessis en Noël Schreuder, die stigters van Feeste.net. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Suid-Afrikaners is lief vir baie dinge: musiek, kos en om lekker fees te vier. Dit is juis waarom mediaman Sarel du Plessis en oudpredikant Noël Schreuder Feeste.net, ʼn platform waar feeste en vertonings geadverteer kan word, van stapel gestuur het.

Alhoewel Sarel en Noël se vriendskap en vennootskap vandag stewig staan in hul projek om vir Jan Alleman feeste so toeganklik moontlik te maak, het hulle paaie dekades gelede reeds gekruis.

Dié twee entrepreneurs het mekaar agter die skoolbanke van Hoërskool Port Natal in Durban ontmoet. Hul paaie het weer in die Dromedaris-manskoshuis gekruis, waar hul loseer het tydens hul studies by die Universiteit van Johannesburg (destyds die Randse Afrikaanse Universiteit, oftewel RAU).

In daardie jare het dié twee koshuisvriende as platejoggies by studentepartytjies opgetree om ʼn ekstra sent of twee in die sak te kon steek. Hulle was ook aan’t stuur van Dromedaris se eie koshuiskoerant, die Mishoring. Hulle was ook kranige fotograwe wat selfs hul eie donkerkamer gehad het om hul foto’s te kon ontwikkel.

“Ons kom al ʼn baie lang pad saam. Alhoewel ons paaie daarna ʼn bietjie geskei het, het ons as afgetredenes weer bymekaar uitgekom. Ons het besef dat ons goed saamgewerk het en lekker dinge saam gedoen het,” het Noël in Maroela Media se ateljee vertel.

Platejoggies Noël Schreuder en Sarel du Plessis (Foto: verskaf)

“Jy kan sien dit kom daar van die DJ– en sokkie-sokkie-dae af,” het hy geskerts.

Sarel het in sy loopbaan, wat oor dekades strek, by organisasies wat onder meer Times Media, die Republikeinse Pers, Media24, Pretoria FM en GrootFM gewerk.

Dit was juis gedurende sy tyd by Media24, waar hy as die uitvoerende hoof van Rapport en Sondagkoerante gewerk het, waar hy aanvanklik die idee vir ʼn platform soos Feeste.net gekry het.

Hy het reeds daardie jare, in 2009 en 2010, besef dat daar sowat 600 feeste ʼn jaar in Suid-Afrika plaasvind, en dat daar nêrens ʼn plek is waar Jan Alleman al dié feeste en vertonings gemaklik kan opspoor nie. Vandag, meer as ʼn dekade later, is dit steeds ʼn reuse-uitdaging vir mense om te weet watter geleenthede waar en wanneer plaasvind.

“Ek en Noël het ʼn jaar en ʼn half gelede koppe bymekaar gesit om nuwe besigheidsgeleenthede te verken. Ons het gewonder of daar iets is wat regtig ʼn impak op ons land se mense gaan maak,” vertel Sarel.

“Ek het weer eens besef dat daar nêrens ʼn plek is waar feeste, vertonings en geleenthede geadverteer word nie. Die meeste van die goed verskyn op Facebook, maar soos dit op Facebook werk, verdwyn dit naderhand soos wat mense nuwe goed oplaai.”

Met hierdie stryd om ʼn tuiste vir alle Suid-Afrikaanse feeste, vertonings en geleenthede te vind, het Feeste.net ontstaan. Sedert dié webwerf in Mei vanjaar op die been gebring is, is daar reeds honderde feeste en vertonings daarop geadverteer.

Besoekers aan die webwerf het nou die geleentheid om op een gerieflike plek uit te vind watter feeste binnekort in of naby hul dorpe gaan plaasvind en watter kunstenaars eersdaags naby hul gaan draai.

  • Besoek Feeste.net vir meer inligting.
  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Noel Schreuder en Sarel du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.