Luistergenot met RSG se Radioteater

Charles J. Fourie. Foto: Verskaf

Charles J. Fourie. Foto: Verskaf

RSG se Radioteater-seisoen vir 2016, wat op 7 April afskop, het weer ʼn groot verskeidenheid dramas wat luisteraars behoorlik op die punt van hul stoele gaan hou.

Onder dié radiodramas kan luisteraars stories verwag van ʼn wittebrood wat skeef loop, ʼn spook wat weier om op die kaggelrak te bly sit, ʼn riller en ʼn keur van bekroonde én klassieke dramas.

Radioteater begin met die wenners van die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie vir 2015. Die eksentriekes, geskryf deur Erica Harris, is met die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) bekroon.

Ander radiodramas soos Die nag van die wyses deur Zenobia Kock, wat derde plek behaal het, Genade (tweede plek) deur Marita van der Vyver en Vergifnis (wenner) uit die pen van Charles J. Fourie volg in April.

Die Britse skrywer Charlotte Brontë is in April 200 jaar gelede gebore. RSG saai op Donderdag 5 Mei haar klassieke verhaal, Jane Eyre, uit ter viering van haar geboortedag.

Chris Barnard. Foto: Verskaf

Chris Barnard. Foto: Verskaf

Dis ʼn argiefopname wat in 1989 opgevoer met Juanita Swanepoel in die titelrol. Van die ander spelers sluit in wyle Limpie Basson, Percy Sieff, Gretha Brazelle, Marion Holm, Nico de Beer, Royston Stoffels en Antoinette Kellermann. Die vertaling en verwerking vir die radio is deur S. van Staden gedoen.

Jane Eyre is in 2003 in die BBC se The Big Read-peiling as een van die tien gewildste romans aangewys.

‘n Week later volg nóg ʼn klassieke radiodrama – wyle Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey. Die regisseur Cor Nortjé het hierdie drama 45 jaar gelede opgeneem met onder andere Cobus Rossouw en Joey de Koker in die rolverdeling.

Rebellie is in 1973 met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-prys vir Afrikaanse hoorspele bekroon. Dit is egter al in 1970 met die eerste prys bekroon in ʼn hoorspelkompetisie uitgeskryf deur die Belgische Radio en Televisie in samewerking met die SAUK. Dit word op Donderdag 12 Mei uitgesaai.

Riana Scheepers se Wittebrood volg op Donderdag 19 Mei met spelleiding deur die RSG-omroeper en aktrise Christelle Webb-Joubert.

Dit vertel die storie van die pasgetroude Lucas en Klara. Vir die wittebrood koester Lucas die romantiese droom om sy bruid ʼn ongerepte deel van Afrika te gaan wys. Die verrassing en “avontuurlike natuurvakansie” blyk gou glad nie so idillies en romanties te wees as wat Lucas in gedagte gehad het nie.

Marion Erskine se Siembamba (wat op 26 Mei uitgesaai word) is ʼn sielkundige riller wat die luisteraar end-uit gaan laat kopkrap. Renske Jacobs behartig die spelleiding.

Die laaste van PG du Plessis se kort Teerling-stukke kan op Donderdag 2 Junie gehoor word. Stian Bam en Susanne Beyers vertolk die rolle in Teerling: Die pes, met regie deur Eben Cruywagen.

Dié drama wat slegs vir volwassenes bedoel is, word eersdaags tydens die KKNK voor ʼn gehoor in Oudtshoorn opgeneem.

Die Kaapse musikant Wilken Calitz se Lewe na die noot is ‘n rock-‘n-roll-radiodrama oor die lewe van die 25-jarige folksanger Johnny Botha. Calitz is bekend om die radiodrama Veertig dae (tweede plek in die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie van 2012) asook die verhoogstuk God van klank, wat as radiodrama verwerk is. Johan Rademan is die regisseur.

Die seisoen sluit ook in Fanie Viljoen se spookstorie-radiodrama, Verlos ons van die bose (23 Junie), en die bekroonde dramaturg Schalk Schoombie se My Japan.

Die seisoen word afgesluit met ‘n splinternuwe vertaling en radioverwerking van Samuel Beckett se Waiting for Godot. André Kotzé het Om te wag vir Godot in opdrag vir RSG aangepak. Dit word op Donderdag 30 Junie uitgesaai.

Radioteater word van April elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Radio Met Grense. KAN MAAR JUL STORIETJIES HOU

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.