Mej. SA-kroning geskied vanjaar anders

Die organiseerders van die Mej. SA-skoonheidskompetisie het Vrydag aangekondig dat die aanwys van die wenner vanjaar anders gaan verloop as voorheen.

Waar daar voorheen drie finaliste gekies is waarvan een as wenner en twee as eerste en tweede prinsesse aangewys is, gaan daar vanjaar slegs twee finaliste gekies word.

Die een word aangewys as Mej. Wêreld SA en die ander een as Mej. Heelal SA. Die gekose wenner sal dan Suid-Afrika in die onderskeie internasionale kompetisies verteenwoordig.

Daar kan egter steeds slegs een amptelike Mej. SA wees. Daarom sal die twee gekose vroue ʼn beoordelaarsvraag moet beantwoord, en na gelang van hul antwoorde sal die algehele wenner aangekondig word.

Die organiseerders van die kompetisie, wat vanjaar vir die 60ste keer aangebied word, het dié besluit geneem om die kompetisie en sy deelnemers se blootstelling op internasionale vlak te verbreed. Voorheen het die organiseerders van Mej. SA self besluit vir watter een van die twee internasionale kompetisies die wenner geskik is, maar Suid-Afrika sal vanjaar by albei dié kompetisies verteenwoordig kan word.

Rolene Strauss, ʼn voormalige Mej. SA, het in 2014 die Mej. Wêreld-kompetisie gewen terwyl Demi-Leigh Nel-Peters verlede jaar as Mej. Heelal gekroon is.

Claudia Henkel, voormalige Mej. Suid-Afrika en skakelbeampte van dié skoonheidskompetisie en Sun International, het vroeër aan Maroela Media verduidelik dat daar ʼn beduidende verskil is wat die verantwoordelikhede van die wenners van Mej. Heelal en Mej. Wêreld betref en wat die bestuur en beoordelaars van die wenner verwag.

Vanjaar se Mej. SA-kompetisie vind op Sondag 27 Mei in die Times Square Sun Arena in Pretoria plaas.

Kyk hier na vanjaar se deelnemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

En wie gee om? Volgens my kan die hele “kompetiese” maar geskrap word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.