16-jarige bekoor by gospelsangkompetisie

Delano Jooste (regs) saam met Erich Posthumus, die organiseerder van ‘Godly Revolution’, waar Jooste gaan optree (Foto: Godly Revolution/Facebook)

’n Krulkop-sestienjarige van George in die Wes-Kaap, Delano Jooste, het die beoordelaars en gehoor bekoor met ’n oorspronklike, hartroerende lied tydens Laat ons Juig, ’n splinternuwe gospelsangkompetisie wat vanjaar vir die eerste keer plaasgevind het.

“As daar een boodskap is wat soos ’n goue draad deur die kompetisie geloop het, is dit dat jy moet bring wat jy kan bring, gee wat jy kan gee. Die Here en die Heilige Gees sal sorg dat dit groei en die lewens van ander aanraak en verander.”

Só vertel Janiné Grobbelaar, organiseerder van Laat ons Juig, wat Saterdag, 2 April, in die mini-ouditorium van die massiewe NG-Moreletapark-kerk plaasgevind het.

Een van die beoordelaars, Retief Burger (Foto: verskaf)

Dié geleentheid het gespog met vier indrukwekkende beoordelaars, Retief Burger, Liza Brönner, Sharoney en Eon de Bruin, terwyl Ruan Josh sy lyf aanbieder gehou het. Deelnemers het van oral kom toustaan om die kans te staan om as wenner van die kompetisie aangewys te word.

“Ek het reeds liedjies begin skryf toe ek 12 jaar oud was. Ek het oor die jare geleer dat mens maar soos ’n kraan is wat iewers op ’n ashoop gelê het en toe opgetel is. Daar is allerhande roes en vuilgoed binne-in. Wanneer jy begin liedjies skryf, kom die vuilgoed saam met die water uit. Hoe meer liedjies jy skryf, hoe suiwerder en hoe mooier word dit,” het Jooste aan Maroela Media verduidelik.

Hy het ’n passie om die Here te dien en is tydens die geleentheid ook aangewys as een van die sangers wat tydens vanjaar se Godly Revolution, ’n Christelike loof-en-prys-geleentheid in Midrand, gaan optree.

Wanneer Jooste nie in die kerk besig is om die kitaar te tokkel en sy heuningstem te gebruik nie, speel hy viool. Sy ma, pa en sussie is van sy grootste aanhangers en het al die pad van George af saam met hom in die Jakarandastad vir die geleentheid kom kuier.

“Om eerlik te wees, het ek geen verwagtings gehad nie. Natuurlik wou ek graag wen, maar op die ou end is ek net bly dat ek as instrument gebruik kon word om Jesus se naam te eer. Ek is baie lief vir Hom,” het die nederige tienerseun oor die oorwinning vertel.

Hy het weggestap met die geleentheid om ’n album van 10 liedjies op te neem.

“Ek dink nie jy besef hoe wys jy is om op daardie ouderdom lirieke te skryf wat met ’n grootmens se hart praat soos gʼn ander lirieke al het nie. Jy is só ongelooflik talentvol,” was die terugvoer wat Jooste by Sharoney gekry het.

Die top-10 deelnemers saam met die beoordelaars van ‘Laat ons Juig’ (foto: verskaf)

Daar was natuurlik ’n string vol talentvolle aspirantsangers wat die geleentheid ook bygewoon het – dermate dat van die plekke met desimale punte verskil het.

Christo de Waal, ook van die Wes-Kaap, het die tweede plek behaal en Shannon Louw, ’n musiekonderwyseres, die derde plek.

Richelle Grant het in ’n pragtige sonneblomrok haar lied, Sonneblom, gesing en het weggestap met die prys vir die beste oorspronklike lied.

Dit was juis die vereiste dat die hoopvolles oorspronklike liedjies moes opvoer wat van die deelnemers uit hul gemaksone gedwing het.

“Daar was een deelnemer wat eintlik kwaad was oor die feit dat sy ’n oorspronklike lied moes skryf. Sy het dit dan nog nooit vantevore gedoen nie. Sy het aan die einde van die dag vir my dankie gesê daarvoor, en dat sy deur die skryf van die liedjie ’n ontmoeting met God gehad het,” vertel Grobbelaar.

Sy is opgewonde om die kompetisie in 2023 voort te sit.

Die kompetisie is geborg deur Patmos Studio, die tydskrif Juig!, Kruiskyk.TV en Crossplus TV. Die kompetisie sal ook teen Mei op Kruiskyk.TV en Crossplus TV uitgesaai word.

Verder sal ’n digitale album beskikbaar gestel word wat al die treffers van Laat ons Juig se top-10 bevat.

  • Besoek Laat ons Juig se Facebook-blad hier vir meer inligting oor wanneer die kompetisie uitgesaai gaan word en wanneer die twee albums beskikbaar sal wees.

Kyk na ‘n uittreksel van Jooste se trefferlied hier:

#Laatonsjuig 2022 se wennerDelano Jooste

Posted by Janine Grobbelaar on Sunday, April 3, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wakkerslaper ·

Ek sukkel werklik om hierdie tipe dinge te verstaan…. hoe kan die dien van die Enigste Lewende God met sang ‘n kompetisie wees? Het ons godsdiens dus nou ‘n vorm van vermaaklikheid geword? Ek wonder maar net…

Gawie ·

Wakkerslaper, lyk my jy het nie die berig ordentlik gelees nie. Die kompetisie word juis gebruik om mense nader na God toe te bring deur die uitleef van hulle musiektalent!
Mense wat na die musiek by die kompetisie luister word ook daardeur aangespoor om God te prys en aanbid tydens die kompetisie.
As die wêreld hulle musiek kan gebruik in kompetisies, waarom nie Kinders van die Here ook nie?

Christine ·

Dis só wonderlik om te sien hoe mense hierdie platvorm gebruik om hulle talente uit te leef en só eer te gee aan die Here. Wow Delano – mag jy van krag tot krag gaan en die Here jou nog kragtig gebruik en jou seën, jou en elke ander deelnemer en almal wat by die projek betrokke is. Dis só lekker om die Here te dien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.