2016 se musiek

cordelia-01Met 2016 wat tot ʼn einde kom is dit tyd om die musiek wat die afgelope jaar uitgereik is, in oënskou te neem.

Anders as in 2015 was daar heelwat kunstenaars wat meer as een treffer gehad het, en in ʼn paar gevalle kon dit dalk meer as twee of drie gewees het. Daar is ʼn verskil tussen die gewildste en beste albums van die jaar; want dié wat regtig uitstekend was, het nie noodwendig die gemiddelde musiekliefhebber se verbeelding aangegryp nie.

Twee van die beste albums van 2016 is effens laat in die jaar uitgereik om nou al groot treffers op te lewer, maar daar is hoop dat dinge in 2017 sal verander. Coenie de Villiers het met sy nuwe album, Emoji, weer bewys dat hy werklik een van ons land se talentvolste kunstenaars is, en wat nie altyd na waarde geskat word nie. Die tyd toe hy die woorde en musiek vir elke snit in sy albums geskryf het is dalk verby, maar vir ʼn verandering maak dit nie saak nie, want die snitte wat hy besluit het om op te neem, is sorgvuldig gekies en hy het met ʼn paar uitstekende kunstenaars saamgewerk. As jy op soek is na ʼn album wat regtig die toets van die tyd sal deurstaan, kan hierdie een nie sterk genoeg aanbeveel word nie. Dis net jammer dat daar steeds mense is wat dink sy musiek is te intellektueel vir hulle.

Nog ʼn album wat beslis in dieselde kategorie val, is Laurika Rauch se nuwe een, Die reis. Die enigste kritiek wat ʼn mens kan lewer, is nie teen die album self nie, maar teen die radiostasies se keuse vir die eerste enkelsnit. “Blou” is weer ingesluit, hierdie keer saam met Loki Rothman. Dit is ʼn goeie opname, maar om dit as die heel eerste enkelsnit te kies, is uiters verbeeldingloos. Hoekom is die titelsnit nie eerder gekies nie; ʼn skitterende nuwe komposisie deur ʼn kunstenaar wie se stem perfek by dié van Laurika pas: Vernette Wessels, die hoofsangeres van Coffeesnobs. As hierdie album vroeër in die jaar uitgereik is, sou Laurika my vrouekunstenaar van die jaar gewees het, maar hierdie album het nog net een treffer opgelewer.

Dit was ook lekker om ʼn nuwe album van Neil Somers te hoor. Hy was baie lank stil, maar dit was die moeite werd om vir Hierdie hande te wag. “Silwer kombers” was een van die beste liedjies van die jaar en hoewel mense dit dalk as neerdrukkend beskou, verwoord dit baie mense se gevoelens baie goed.

Ricus Nel het ook weer eens bewys dat hy een van ons land se veelsydigste en talentvolste kunstenaars is. Met “Hardekole” het my almal weer laat saamsing. Dit is ʼn eenvoudige maar treffende liedjie en die feit dat daar net drie kitaardrukke is, beteken dat dit maklik is om aan te leer. Dit is egter nie die enigste hoogtepunt in die album nie. Soos ʼn mens in die album kan hoor, weet hy wat om met ʼn elektriese kitaar, ʼn banjo, ʼn konsertina en verskeie ander instrumente te doen. Hy is seker deesdae ons land se veelsydigste instrumentalis, en sy album, Ouskool Boerseun bevestig sy talent en veelsydigheid.

Die nuweling van die jaar is ongetwyfeld Refentse, wat diep in Afrikaanse musiekliefhebbers se harte gekruip het met sy album My hart bly in ʼn taal. Die album bevat weliswaar net twee oorspronklike komposisies, maar dit is duidelik dat die beste Afrikaanse sangers en liedjieskrywers hom inspireer. Hy het onderneem om mettertyd ʼn album met oorspronklike komposisies uit te reik en ʼn mens sien regtig uit daarna.

Daar was ʼn aantal trefferliedjies wat bó die res uitgestaan het. Hoewel “Eerste woorde” van Cordelia reeds teen die einde van verlede jaar as enkelsnit uitgereik is, het dit eers vanjaar die trefferslyste gehaal en daarom kry dit my stem vir die liedjie van die jaar. Die rede is dat sy ʼn deel van haar lewensverhaal vertel en dat dit meer om die lyf as die gemiddelde radiotreffer het. Dit is ironies dat Rudi Claase dit geskryf het, maar sy kon haar verhaal self nie beter vertel het nie. Soos reeds genoem, het Ricus Nel die volk laat saamsing met “Hardekole”, en Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse se bydrae maak dit nog meer besonders.

Nog ʼn liedjie wat mense saam laat sing het, is Jak de Priester se “Sporelied” wat geskryf is ter viering van die Voortrekkers se 85ste verjaardag. Jak is ongetwyfeld ʼn uitstekende liedjieskrywer en sanger en het hier met iets besonders vorendag gekom.

Daar moet darem iets wees vir dié wat lekker partytjie wil hou, en hier het Kurt Darren die kol getref met “Kaalvoetsokkie”. Daar is net iets aan hierdie liedjie wat uiters aansteeklik is, en anders as sommige van sy vorige treffers kan ʼn mens nie moeg word daarvoor nie.

Daar was min musiekvideo’s wat regtig die oog gevang het die afgelope jaar. Twee daarvan is deur dieselfde sangpaar, naamlik Jay en Lianie. Hul jongste album, “Vir liefde”, was een van die gewildstes van die jaar, en die twee treffers tot dusver, naamlik die titelsnit en “Da’vat hy” het fantastiese musiekvideo’s opgelewer. Hulle kom altyd vorendag met mini-rolprente. In die titelsnit is daar ʼn garage-partytjie, met ʼn pragtige VW Fleetline Kombi wat aan die begin voorkom, en die storielyn van die video van “Da’vat hy”, met Jonathan van Radio Raps wat met ʼn gemodifiseerde Ford Cortina na die kuierplek Weiveld toe ry, was iets besonders.

Soms is ʼn ingewikkelde storielyn nie nodig nie; die musiekvideo van “Hardekole” skitter eintlik in sy eenvoud. Nog ʼn kunstenaar waarvan daar twee besondere musiekvideo’s verskyn het, was Leah. Die temaliedjie van die rolprent Die sneeukoningin 2 is “Maak my dag”, wat ook haar jongste enkelsnit is. Die tonele uit die rolprent maak van hierdie video iets besonders.

Die beste musiekvideo van die jaar was egter dié van haar ander treffer, “Volmaan”, wat deur die rolprent Frozen geïnspireer is. Die video is regtig asemrowend mooi; nie net vanweë die omgewing waarin dit verfilm is en die wolwe wat daarin voorkom nie, maar sy lyk ook pragtig daarin.

Laastens, hier is my toekennings vir 2016

Liedjie van die jaar: “Eerste woorde” – Cordelia

Album van die jaar: Ouskool Boerseun–Ricus Nel

Manskunstenaar van die jaar: Kurt Darren

Vrouekunstenaar van die jaar: Cordelia

Sangpaar of groep van die jaar: Jay en Lianie

Musiekvideo van die jaar: Volmaan – Leah

Christelike album van die jaar: Heilig is U Naam – Belinda Brönner en Vriende

Instrumentale album van die jaar: Wikkelvingers – Die Ventertjies

Terugkeer-kunstenaar van die jaar (vir die kunstenaar wat drie jaar gelede of langer ʼn CD uitgereik het): Neil Somers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae