‘2nd Life Band’ – ons pad na genesing

Kyle Joshua en Kirsten Richard van 2nd Life Band. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Liezel Boonzaier was altyd passievol oor musiek, al was haar voltydse roeping in die korporatiewe wêreld. Ná die tragiese afsterwe van haar man, Richard Schlebusch, en die pa van haar twee seuns, Kirsten Richard en Kyle Joshua in Maart 2010, het musiek haar en haar gesin se enigste ontvlugting geword.

“Ek het my eie werwingsagentskap gehad en Richard was ’n BTW-prokureur. Maar ná sy skielike dood, was dit eenvoudig net die maklikste om weer terug te keer na my musiekwortels en my emosies vas te lê in woorde en snare. Ek het wel nooit gedink dat ’n dekade later sal dit my voltydse beroep wees nie.”

Sy onthou sy dood as uiters traumaties. “Die ongeluk het voor my en die kinders se oë afgespeel en ek is met posttraumatiese stres gediagnoseer. Ek was totaal ongeskik om te werk en het teruggeval op die enigste ding wat ek kon doen, en dit was musiek.”

Omdat Liezel van jongs af ’n passievolle musikant was, het sy beide haar kinders van kindsbeen af gemotiveer om instrumente te bespeel. Ná Richard se ontydige dood, het almal hul emosies uitgewoed deur middel van musiek.

“Kristen het emosioneel baie swaar gekry en sy enigste uitlaatklep was om kitaar te speel. So het hy vir ure gesit en tokkel om deur sy emosies te probeer werk.”

Liezel is vyf jaar gelede weer getroud met Gerrit (Boon) Boonzaier en so is 2nd Life Band gebore. Boon was Kirsten se kitaar- en sangonderwyser en hul huis het ’n huis van musiek geword.

“Ek het Kirsten (verhoognaam Kirsten Richard) en Kyle (verhoognaam – Kyle Joshua) sommer reeds met geboorte verhoogname gegee, want ek het in hart en siel geweet hulle gaan gebore musikante wees.”

As baba het Kirsten baie erg koliek gehad en boonop nodules op sy stembande ontwikkel. Die dokter het Liezel destyds aangeraai dat Kirsten liefs ’n rugbyspeler moet word en nie ’n loopbaan as sanger nie, want hy sal nooit kan sing nie.

“Ek het dit natuurlik as ’n uitdaging gesien wat ek aanvaar het. Kyle (14) het vanaf babadae kindermusiek gedoen en op 5-jarige ouderdom reeds sy eerste tromstel gekry. Daarom is tromspeel vir hom soos tweede natuur.”

Liezel Boonzaier saam met Kirsten Richard, Kyle Joshua en Gerrit Boon Boonzaier. (Foto: Verskaf)

Hy bespeel ook die klavier, kitaar, ukulele en sing. Kirsten (21) sing en speel kitaar, tromme, klavier en mondfluitjie. Liezel sing ook, speel kitaar, klavier en tromme en Boon sing, speel klavier, kitaar, fluit, tromme en basies enige instrument onder die son.

Die gesin het 2nd Life School of Music – ’n afrigtingskool vir beginners tot gevorderde musikante – in Pretoria begin. Die musiekskool reël ook gereelde optredes vir studente, maak videos van hulle en ondersteun die studente met hul eerste tree tot die musiekbedryf.

“Gedurende inperking het kykNET se Skole Top 10 ons genader en ons studente het die geleentheid gehad om musiek te maak tydens die program. Ek dink gedurende dié tyd het ons ons bure ook na drank gedryf, want ons het dwarsdeur die nag musiek gemaak.”

Liezel vertel dat hulle die sitkamer in ’n verhoog omskep het en musiekvideo’s gemaak het wat hulle op sosiale media versprei het.

Kirsten en Boon het ook Kirsten se eerste vyf snitte opgeneem wat reeds op iTunes beskikbaar is. Kirsten het sy tweede radio- en televisiebekendstelling gehad met sy liedjie, “Ons is Groot”. Dié lied is opgedra aan sy pa wat 10 jaar gelede oorlede is. Maroela Media het in Mei 2020 hieroor berig.

Die video was ook Kirsten en sy meisie, Amoure, se eerste videoproduksie. Die video is te sien op kykNET en ander televisiekanale. KAMO Produksies is gebore in die grendeltyd. Kirsten en Amoure het intussen vir Lyla en Just Mia ook videos gemaak wat tans op televisie uitgesaai word.

Kirsten het gedurende grendeltyd bekende Afrikaanse liedjies verwerk en Martin Bester het hom gekontak en ’n onderhoud gevoer oor Kirsten se verwerking van “Dames” deur Biggy.

Intussen was Kyle ook bedrywig en het saam met Kirsten en Boon op sosiale media mense vermaak met sy tromspel. Martin Bester het ’n onderhoud met hom gevoer as deel van die My Kid Rocks-kompetisie. Rian van Heerden van Jacaranda FM het ook op sosiale media die gesin raakgesien en hulle genooi vir ’n radio-onderhoud en optrede tydens sy program.

“Tydens inperking het daar soveel gebeur en Kyle het geleer om ukulele, kitaar en klavier te speel. Sy stem breek tans, maar hopelik sal hy ook een van die dae agter die mikrofoon kan inskuif.”

Tydens inperking het dié gesin ook vir #dieKerk liedjieopnames gemaak, onder meer “Hoe Groot is U” wat tot dusver al meer as 300 000 kyke op sosiale media gekry het.

Kirsten en Kyle tree nou wyd en syd op. Met Kirsten (kitaar en stem), Kyle (tromme – soms met een hand en die ander hand op die klawers), is dit omtrent ’n wenspan. Kirsten beoog om binne die volgende paar maande sy volgende radiobekendstelling te hê. Voor inperking, het hul musiekskool die voorreg gehad om musieklesse by ’n Downsindroom skool (Club 21) aan te bied. Verskeie outistiese kinders sowel as AGHS (ADHD)-kinders ontvang musieklesse by ons.

2nd Life Band het intussen van ’n rockband uitgebrei na 2nd Life Music School, 2nd Life Recording Studio en 2nd Life Talent.

“Ons lewe bestaan omtrent letterlik net uit musiek, ons leef dit. Gerrit is nie net ’n musikant nie, maar ook ’n komediant, mede-eienaar van 2nd Life School of music, vervaardiger, 2nd Life-sanger en skrywer. Met dié dat hy ’n klankingenieur is, kan hy my help met optredebestuur (event management). Ek is die eienaar van 2nd Life School of Music, bemarker vir Kirsten Richard, Kyle Joshua, 2nd Life band, Boon en Boontasties (komedie) en liedjieskrywer. Ek help ook om optredes te reël by Monte Dome in Pretoria. Ek het pas my eie kunstenaars-bestuursonderneming begin waar ek besprekings en onderhandelings namens kunstenaars hanteer.”

Kirsten Richard is ’n musikant, videograaf, musiekonderwyser en musiekleier vir #dieKerk en Kyle Joshua is nog ’n leerder an die Hoërskool Garsfontein, maar tromspeler vir Kirsten Richard en boonop ’n atleet.

2nd Life Band het ’n album bekendgestel getiteld Everything is possible. ’n Paar Afrikaanse enkelsnitte het ook die lig gesien, “Lewe”, “Wie ek is” en “Reënboog”.

“Al het ek my man, en my kinders hul vader verloor, het ons lewe ook ’n nuwe, musikale wending geneem wat hoop bring. Ek het weer liefde gevind en met ons skrywers, geïnspireer deur gebeurtenisse in ons eie lewens sowel as ander s’n. Ons 2nd Life-gesin wil ’n boodskap met die wêreld deel van hoop en die genesingspad wat musiek kan voortbring.”

Hoe groot is U – Kirsten Richard

Hoe Groot is U – Mooiste Kerklied wat jou weer sal hoop gee ????God wil hê dat ons weer moet saamstaan en ons verhouding met Hom versterk.Net Hy kan hierdie wêreld weer genees. Presidente, Dokters, kinders, ouers en al ons slim mense, kan dit nie sonder God doen nie. Hoe kry mens iemand om terug na God toe te gaan? Net as die wêreld uitmekaar skeur, sal ons as nasie, weer leer hoe om saam in geloof, hoop en liefde te staan. Ek skryf hierdie as ń Rock n Roll musikant en musiekonderwyser vol foute. My spelling en geloof was nog nooit perfek nie. Maar ek en my 2 seuns kan dalk iemand hoop gee, deur hierdie video en ons musiek.Ek dink…al hoe hierdie nuwe wêreld gaan regkom, is om mekaar weer lief te hê. Ons as Afrikaners sukkel om saam te staan. Daar is so baie mense wat oorlog maak in hulle eie gesinne en hier op Facebook, selfs in die regte wêreld. As elke ras weer terug keer na God toe, kan ons hierdie oorlog en virus stop. Dit begin by ons, en dan liefde vir ons naaste. In ń oorlog wen niemand nie. Dis die moeilikste om lief te hê en gelukkig te wees.Kom ons sit die aarde en ons lewens weer in God se hande.Luister gerus Sondag 7 Junie, na iemand wat meer as ek van die bybel af weet. ???? Ds. Thomas Dreyer gee ń boodskap oor Hoop môre 07:00 op Facebook. Die link sal môre 07:00 op die Kerk se blad beskikbaar wees.Dit maak nie saak wat se groot probleme jou in die gesig staar nie, hou vas aan God se hand.Groete Gerrit Boonzaier- 2nd LifeDom Musikant en Pappa vanuit Pretoria, wat ook self sukkel, om hierdie wêreld te verstaan ????

Posted by 2nd Life on Friday, June 5, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.