4 harte- 4 Werke

4 werkeDit het al ‘n paar keer in die geskiedenis van internasionale pop-en-rockmusiek gebeur dat ‘n aantal solokunstenaars bymekaargekom het en ‘n nuwe groep gevorm het. Die bekendste voorbeelde hiervan was seker tot dusver Crosby, Stills, Nash and Young en The Traveling Wilburys, wat uit Tom Petty, Bob Dylan, Jeff Lynne, George Harrison en Roy Orbison bestaan het.

Hierdie neiging het nog nie juis in Suid-Afrika posgevat nie, maar omtrent twee jaar gelede is seker Suid-Afrika se eerste “supergroep”, 4 Werke gestig. Die groep bestaan uit Ray Dylan, Monique, Nicholis Louw en Elizma Theron, wat almal al sukses as solokunstenaars behaal het. Hul tweede album, 4 harte, is vroeër vanjaar bekendgestel.

Die titel is eintlik heel slim, omdat daar vier snitte is waarin die titel “hart” voorkom. Die eerste snit op die album is die eerste daarvan, Kan ek my hart terugry. Dit is ‘n goeie oorspronklike komposisie deur Ray , saam met Neil Schoombee en Don Kelly, wat niemand anders as Ernst Kleinhans van Select Musiek is nie.  Nog ‘n goeie oospronklike komposisie is Daai eerste soen, wat beslis ‘n treffer kan word.   Die volgende snit is een van die treffers wat die album tot dusver opgelewer het, naamlik Roete na jou hart. Dit is maklik verstaan hoekom dit so gewild geword het, want hulle vier bewys dat hulle selfs nog beter saam as afsonderlik is. Die musiekvideo van hierdie snit is baie goed, en daar is sekerlik baie moeite daarmee gedoen. Die kitaawerk op Jy loop op dun ys is baie goed; en dié snit het ‘n baie lekker ritme. Hopelik sal dit ook een van die treffers vanaf die album word. Jy sal sommer dadelik begin saamsing as jy die refrein hoor.  Die volgende snit, My engel pas my op, is ‘n oorspronklike snit deur Werner Beukes en Nicolette Greeff, en weer eens is die vokale harmonieë ‘n hoogtepunt.  Wie sou kon sê, wat deur Emil Struwig geskryf is, klink heeltemal anders as die res van die album; dit is ‘n rustige snit wat hul talent baie goed ten toon stel.  Die wenner van die reeks Ons soek die sanger, Pierre Rossouw, het gehelp om Hand op my hart te skryf.  Die inleiding van Na dit als is baie mooi; hulle sing dit aanvanklik saam a capella,en die instrumente kom eers later in. Dit is ‘n baie goeie snit wat ook ‘n treffer kan word. Daar is twee bekende snitte op die album; die eerste daarvan is ABBA se Mamma mia. Dalk is die oorspronklike opname ouer as al vier die groeplede, maar hul weergawe daarvan is baie goed.

Niemand sal my uit jou arms kom haal is ‘n goeie oorspronklike snit wat deur Select se twee grootbase, saam met  Neil Schoombee geskryf is.  Dan sal ek jou kom haal was die eerste treffer, en dit was al ‘n radiotreffer nog voordat die album vrygestel is.  Theo Janse van Rensburg se  kitaarwerk op Vanaand gaan ons êrens heen is uitstekend; dit is dalk een van die beste snitte op die album.Dit is ironies is dat dit die enigste snit is met ‘n Europese melodie, maar Afrikaanse woorde. Die wiel het gedraai is nog ‘n mooi snit wat Pierre Rossouw gehelp skryf het. Die laaste “hart”-snit op die album is Daar’s ‘n plek in my hart, weer eens ‘n snit met trefferpotensiaal. Ek sal die son en die maan en die sterre vir jou gaan haal (sjoe, wat ‘n lang titel!) het al radiolugtyd gekry, en sal seker die volgende enkelsnit vanaf die album wees. Simply the best (eintlik The best) was ‘n groot treffer vir Tina Turner, hoewel Bonnie Tyler dit oorspronklik opgeneem het. Hoe ook al, dit is seker een van die treffers van die 1980’s wat nog heeltemal te gereeld oor die radio gespeel word, tot so ‘n mate dat ‘n mens lank al moeg daarvoor geword het. 4 Werke se weergawe klink egter baie goed, en dis goed om ‘n vierstemmige verwerking, as ‘n mens dit só kan noem, daarvan te hoor.

Ek moet eerlik wees: Ray, Monique, Nicholis en Elizma is beter as ‘n groep, en dit was regtig ‘n slim idee van Select Musiek om hulle bymekaar te bring. Ongelukkig het ek nooit ‘n resensiekopie van hul eerste CD ontvang nie, en daarom was hierdie album my eerste kennismaking met hulle vier as ‘n groep, en ek moet sê dat ek uitsien na nog baie meer van hulle!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.