40 treffers- Rooies

Rooies - 40 TreffersSoms gebeur dit dat ‘n kunstenaar baie gewild is in een deel van die land gewild is, terwyl hy of sy nêrens anders bekend is nie.

Een voorbeeld hiervan is Rooies, die verhoognaam van Rudi Grobbelaar, wat al vyftien jaar lank aan die Kaapse Weskus aan die sing en liedjies skryf is, maar wie se musiek nie juis op radiostasies landswyd gehoor word nie. Rooies het al ses albums vrygestel, en hoewel een daarvan ‘n trefferversameling was, was daar ‘n groot vraag na sy ouer musiek. Daarom is ‘n dubbele versameling, met bestaande en nuwe snitte pas vrygestel. Die album is eintlik getiteld 40 treffers uit my eie pen, maar soos ‘n mens mettertyd besef, is hierdie titel misleidend, aangesien hy nie al die snitte daarop geskryf het nie.

Die eerste van vier nuwe snitte is Hou my vas, die eerste snit op die eerste CD. Hierdie liedjie gaan oor ‘n klomp manne wat in Namibië gaan visvang en tussen die sandduine kuier. Papegaai is nog ‘n nuwe snit, en hoewel dit sy eie komposisie is, is die refrein geleen van die volksliedjie Dis te ver om te loop. Anna van Wyk het oorspronklik op die album Ek’s sexy en weet dit voorgekom, en hierin sing hy van ‘n meisie wat op ‘n plaas grootgeword, maar daarvan wil wegkom. Bulshoekdam gaan oor ‘n plek naby die Kaap waar daar blykbaar lekker visgevang en gekuier word. Kinderdae is ‘n nuwe snit, en hierop bewys Rooies dat hy ook lirieke kan skryf wat iets om die lyf het. Hopelik sal dit ‘n groot treffer word.

Dwarskersbos was oorspronklik op die album Hou jou hande van my lyf af, en hier sing hy van een van die bekendste klein dorpies aan die Weskus. Derick Lennox, wat baie van Rooies se musiekverwerkings gedoen het, speel die mondfluitjie op hierdie snit; ‘n mens wonder of hy die sanger en liedjieskrywer Ruben Lennox se seun is. Bobbejaan was die titelsnit vanaf Rooies se eerste album, en dit is ‘n liedjie wat jou gou sal laat saamsing. Wildebeesfontein is plek naby Bloemfontein waar daar blykbaar lekker gedrink word. Die volgende snit is seker een van die hoogtepunt vanaf die hele album. Kampala is ‘n pragtige nuwe snit wat reeds radiolugtyd begin kry het. Hy sing nie hier van Uganda se hoofstad nie, maar van ‘n plek in die Kaap met dieselfde naam as dié bekende Afrika-stad.

Die Weskus roep my is ‘n mooi snit waarop hy sing van die deel van die land waar hy vandaan kom. Weskusdromer het oorspronklik vanaf die album Bokkom mambo gekom, en is eintlik ‘n lekker snit. Bokkoms en tamaties is die eerste snit op die album wat Rooies nie geskryf het nie; Rynhardt Crous het dit geskryf. Hier word daar weer gesing van die stryd tussen manne wat daarvan hou om te drink, en hul vroue wat by die huis vir hulle wag. Moenie van my vat nie is een van twee liedjies waarin die kwessie van ongewenste toenadering aangespreek word. Ossewa is nie Johannes Kerkorrel se liedjie nie, maar ‘n oorspronklike komposisie met ‘n bekende refrein. Sannie met die rooi rokkie is ‘n tradisionele komposisie wat jou dadelik sal laat saamsing.

Ek sê vir jou is nog ‘n oorspronklike komposisie wat oorspronklik op sy album Ek’s sexy en ek weet dit voorgekom het. Derick Lennox se kitaarwerk op Lollipop is baie goed, maar die woorde is maar oppervlakkig. Dis naweek sal byval vind by dié wat lus is vir ‘n lekker kuier soos ‘n mens net op die platteland kry. Velddrif se mense is baie dieselfde; hierin sing by van die mense van Velddrif aan die Bergrivier, die eindpunt van die Bergrivier-kanomarathon. ‘n Mens weet nie wat die storie agter die Zola Budd-keurspel is nie. Dit bestaan uit ‘n aantal liedjies, en dis duidelik dat die eerste liedjie, Zola Budd op die wysie van The Klaxons se bekende Clap clap sound geskryf is. Die tweede liedjie, Skud die boom, gaan oor ‘n spul daggarokers, terwyl die volgende drie, Wat maak oom Kallie daar, Vanaand gaan die volkies koring sny en Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê baie bekend is. Hoender is darem ‘n lekker ding herinner net te veel aan Anton Goosen se bekende treffer Klein bietjie wyn. Nugter weet hoekom hierdie snit ingesluit is; miskien sal dit die dansvloere vol kry, maar andersins het dit geen meriete nie.

Die eerste snit op die tweede CD is Boertjie van Namakwaland, oorspronklik vanaf die album Hou jou hande van my lyf af. Die titelsnit vanaf hierdie album was seker sy eerste groot landwye treffer, en die kwessie van seksuele molestering word hier sterk aangespreek. Tietiesbaai kom van dieselfde album af, en hier sing hy van ‘n dorpie aan die Weskus wat gewoonlik met die oorlede skrywer Pieter Pieterse geassosieer word. Weskus toe is nog ‘n snit waarin daar gesing word van kreef braai en lekker kuier, wat gewoonlik met drank gepaard gaan.

Bokka van Taaibosplaas is ‘n wals wat deur Tony Hyman geskryf is, en Nicolene Brummer sing saam met hom. Rooies se stemwerk op Kliphard is uitstekend, en dit klink veral goed as hy in ‘n lae register sing. Daarby is die woorde dalk effens sinies, maar die absolute waarheid. Dis goed dat hy nie net oor lekker kuiers kan sing nie, maar ook oor dit wat in die lewe saakmaak. Namakwaland was oorspronklik op die album Bobbejaan, en is seker een van die mooiste snitte op hierdie versameling. Bliksemstraal is nie een van Rooies se komposisies nie; ene Reinhard het dit geskryf. Ek’s sexy en ek weet dit was die titelsnit van Rooies se mees onlangse album en laat ‘n mens met gemengde gevoelens. Baie mense sal dit as uiters platvloers beskou, maar volgens Rooies het hy dit geskryf vir mense met ‘n selfbeeldprobleem. Dalk moet ‘n mens die woorde nie té ernstig opneem nie. Op Ou tante Sarah sing Rooies nie net nie; hy wys ook hier dat hy kan “rap.”

My matras is ironies genoeg ‘n liedjie wat jou op die dansvloer gaan kry al sing Rooies hier van die belangrikheid van ‘n man se slaap. Daar is baie mense op die platteland wat byname het, en op Bynaam is ‘n lekker ding sing hy daarvan. Op Gym daai ding sing hy van die fiksheidsfanatici wat soveel tyd in die gimnasium spandeer. Poppie van die Vrystaat is ‘n komposisie van Ronaldo, en hierin sing Rooies van ‘n Vrystaatse meisie wat Durban toe getrek het en wat die manne se aandag trek. Sy worry nie oor my nie het ‘n effense rock and roll-klank, en sal byval vind by dié wat die rolprent Pretville geniet het. As jy by my bly is ‘n ongelooflik mooi liefdesliedjie wat weer eens bewys dat Rooies ‘n goeie liedjie kan skryf as hy wil, en baie goed in ‘n lae register klink. Kagga Kamma is Rooies se laaste komposisie op dié versameling, en weer eens is dit ‘n baie mooi liedjie. Dié wat David Kramer se musiekloopbaan van die begin af gevolg het, sal Piet Bedien ken. Hierdie liedjie was oorspronklik op David se album Die verhaal van Blokkies Joubert, wat in 1981 vrygestel is. Rooies se weergawe van dié liedjie is baie goed, en dit kan gerus oor die radio gespeel word. Tollemanskuit is ‘n lekker komposisie van Cobus Snyman; Cobus is deel van die sanggroep Broers, saam met sy broers Christo en Nic Stevens. Die laaste snit op die album is Die skipper, wat deur Derick Lennox geskryf, en dit is iets werklik besonders.

Op die ou einde laat Rooies jou met gememgde gevoelens. Daar is te veel snitte waarop hy van dieselfde dinge sing, veral visvang, die Weskus en manne wat diep in die bottel kyk wanneer hulle kuier. Aan die ander kant herinner ‘n paar snitte jou daaraan dat hy ware talent het en nie as sanger en liedjieskrywer onderskat kan word nie. Hierdie versameling sal beslis byval vind by enigiemand wat van die Weskus af kom, of wat van die oorlede sangers Worsie Visser en Zak van Niekerk se musiek gehou het. As jy nie in een van hierdie kategorieë val nie, moet jy eers behoorlik na hierdie versamaling luister voordat jy besluit of jy dit by jou versameling gaan voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.