5 Vrae vir Arno

arno-carstensArno Carstens is reeds vir meer as twee dekades lank ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrikaanse musiek. Sy eerste Afrikaanse album, Die aandblom 13, is ʼn besonderse werk – dis ʼn album met ʼn sterk alternatiewe geur, wat jou met amper-poëtiese, raakvat-lirieke en ongewone klanke en melodielyne boei met sy praat oor die dink en doen van vandag se mens.

Die album het reeds groot opslae gemaak in die plaaslike media, sowel as op ons land se grootste radiostasies. Arno is ook glad nie vreemd op die internasionale front nie. Met baie groot aanhang in Europa, het Arno en sy groep al geopen vir groepe soos U2, Rolling Stones en The Police. Ons het vir hom ʼn paar vrae gevra.

  1. Arno, jy het onlangs jou eerste Afrikaanse album vrygestel. Waarom het jy besluit op ʼn Afrikaanse album?

Select Music het die idee voorgestel en nadat ek kortliks daaroor gedink het, ek die aanbod met ope arms aanvaar. Ek het altyd geweet ek gaan dit eendag doen. Dus, hier’s ons nou en te danke aan ʼn ongelooflike groep mense agter die album se produksie, vind ek myself heel trots op ʼn lekker stuk werk.

  1. Hoe verskil jou solo-album se klank van die Springbok Nude Girls se albums?

SNG is heerlik swaar en energiek, my solomateriaal is melodies en sagter op die ore.

  1. Kan ons in die toekoms nog ʼn Springbok Nude Girls-album verwag?

Ja, ek skryf nou aan ʼn SNG-album, maar ek moet nog die groep oorreed. Hulle is almal besig, dus hou ek duim vas vir nuwe materiaal vir volgende jaar.

4. Jou solo-album het ʼn sterk alternatiewe aanslag. Waaroor skryf jy gewoonlik?

Ek skryf normaalweg oor donker staaltjies met kleurvolle woordgebruik, maar op die Aandblom 13 wissel dit grotendeels tussen bogenoemde en stories van plekke, vriende en lewenservaring.

  1. Hoe lyk die toekoms van Afrikaanse musiek vir jou?

Ek dink, as jy kyk na die groot sukses van  kunstenaars wat artistiese welstand bo kommersiële sukses verkies, wys dit op ʼn gesonde toekoms met die klem op ryk  literêre inhoud en musikale individualiteit.

(Foto’s: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.