Aanlyn vermaak vir die langnaweek

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn aanlyn konsertgids saamgestel waarmee musiekiefhebbers dié langnaweek kan ontspan.

Die blondekop sangeres Demi Lee Moore se Inbly-konsert, aangebied deur Afrikaans is Groot, is vanaand (Donderdag) aanlyn te sien.

“Ek is so opgewonde oor hierdie konsert vanuit my huis, want dis ’n geleentheid om my ondersteuners in my spasie in te nooi en só vir hulle dankie te sê vir hul ondersteuning,” sê Moore.

Sodra die konsert afskop, sal kykers wêreldwyd die konsert vir ʼn tydperk van 12 ure kan geniet. Kaartjies kos R49,99 en is beskikbaar deur Computicket.

Vrydag 1 Mei om 19:00 is die V&A Waterfront in Kaapstad se gereelde straatvermakers (buskers) te sien in die V&A Waterfront se aanlyn konsert Good Night Friday Buskers Unplugged.

Micaela Kleinsmith, Alanna Joy, Reinhardt Buhr en die musiekgroep Mmino Melodies sal kykers vermaak vanuit hul sitkamers. Die sanger en liedjieskrywer Chad Saaiman is die regisseur en seremoniemeester van die konsert.

Die V&A Waterfront is die tuiste van Kaapstad se lewendige en talentvolle straatvermakersgemeenskap en bied al vir die afgelope 20 jaar ʼn gereelde platform om op te tree en ʼn bestaan te maak. Sedert die staat van inperking ingestel is, het die V&A Waterfront deurgaans finansiële ondersteuning aan dié kunstenaars gebied.

Die konsert is gratis, maar kykers word genooi om ʼn donasie van enige bedrag te maak ten bate van die straatvermakersgemeenskap.

Klik hier om die konsert te kyk.

Karen Zoid is ook Vrydag 1 Mei om 20:00 te sien in ʼn aanlyn konsert getiteld Rooftop Concert, regstreeks vanaf die dak van haar woonstelblok in Kaapstad, met ʼn 360 grade uitsig oor die Atlantiese Oseaan, Tafelberg en Leeukop.

“Of ek busk en of ek vir ʼn groot gehoor speel, die gevoel wat ek kry wanneer ek my musiek speel, is steeds dieselfde. Om regstreeks te speel is waarvoor ek lief is,” sê Zoid.

Die konsert is eksklusief beskikbaar vir 48 uur. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket.

Die “Vuur op die water”-sanger, Elandré, sal ook op Vrydag 1 Mei as deel van die My Hart Klop Teater-inisiatief deur Select Musiek aanlyn optree.

Kaartjies vir dié vertonings is hier beskikbaar en kos R40 per toestel. Slegs een kaartjie is nodig vir die hele gesin om saam konsert te hou.

Kuier Saterdag 2 Mei om 19:00 in Ricus Nel se ateljee tydens sy Inbly-konsert, waar hy van sy grootste treffers gaan sing en ʼn paar staaltjies gaan deel.

Die konsert word in samewerking met Afrikaans is Groot aangebied. Kaartjies kos R49,99 en is beskikbaar by Computicket. Sodra die konsert afskop, sal kykers wêreldwyd die konsert vir ʼn tydperk van 12 ure kan geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.