Die Jaloersbokkies is een van daardie vertonings by ʼn kunstefees wat jou laat vóél jy is by ʼn fees. Dis sommer net lekker.
In dié stuk skakel die gehoor in as luisteraars van Jaloersbokkies FM met Nedine Blom en Jawaahier Petersen as omroepers, en ʼn “live studio band” wat luisteraars se versoeke speel. Afrikaanse gunstelinge soos Waterblommetjies, Daar kom die Alibama, Die trane die rol oor jou bokkie en Sarah de Jager word gespeel en tussenin spot die “omroepers” sonder om op tone te trap ligtelik met politiek en rasseverhoudings.
Jawaahier (stem en omroeper) en Ashur Petersen (kitaar en stem), die kinders van Taliep Petersen, bring hulde aan hul pa en sy musieknalatenskap met sommige van sy liedjies soos Welcome to Cape Town en Dickie Buttonkop.
Die produksie het ʼn heerlike Kaapse klank en die musikante en sangers op die verhoog voel mekaar goed aan. Mens kan nie anders as om jou voet te tik en saam te klap nie.
Ook met Yazeed Williams (kontrabas en stem), Rhyno Domingo (klavier en stem), Shaan Wocker (tromme) en Carlton Adams (trompet).
Clover Aardklop Nasionale Kunstefees 2014
• Laerskool Mooirivier, 60 minute
• 10 Oktober, 17:00
Klik hier om kaartjies vir Die Jaloersbokkies te koop.