Aardklop 2014: Dié Poskantoor staak ook

Foto verskaf deur die Aardklop-mediakantoor

Foto verskaf deur die Aardklop-mediakantoor

Poskantoor word bemark as “die eerste Afrikaanse opera van die 21ste eeu”.

In ʼn onderhoud wat Carine Janse van Rensburg vir Litnet met Magdalene Minnaar (Grethe in Poskantoor) gevoer het, sê Minnaar: “Ek dink ons het reggekry wat ons van die begin af wou doen: om ʼn opera te skep wat terselfdertyd verskeie gehore gaan verlei. Hoog en laag, ernstig en lig, konserwatief en liberaal, Aardklop en Grahamstad, of watter ander kategorieë Suid-Afrika ook bied. Met ander woorde: enigiemand met ʼn sin vir humor en ʼn waardering vir musiek.”

Poskantoor het Maroela Media egter grootliks teleurgestel, veral gesien in die lig daarvan dat dit op so ʼn wye teikengehoor gerig is. Hoewel daar komiese oomblikke is, is die atmosfeer van die stuk wroegend, gespanne en swaar. Dis egter moeilik om na die musiek te luister en die lirieke te interpreteer. ʼn Gedeelte van die opera wat, volgens wat vooraf gesê is, veronderstel is om ligweg die spot te dryf met Afrikaanse vloekwoorde, kom kru oor en is allermins ʼn ligte gespot, veral omdat die vloekwoorde in intensiteit toeneem en oor en oor herhaal word.

Ook suggestiewe tonele in die opera is té eksplisiet vir die “ligte” aard van die stuk. (Toegegee – die ouderdomsbeperking van Poskantoor is 16.)

Die sangers in Poskantoor kwyt hulle wel uitstekend van hul taak.

Moontlik leen die klankkwaliteit van Afrikaans hom net nie tot ʼn genre soos opera nie; of dalk moet daar net nog heelwat geëksperimenteer word voor ʼn Afrikaanse opera by sy gehoor aanklank sal vind.

Poskantoor is waarskynlik ʼn goeie eerste stap in die rigting van ʼn Afrikaanse opera wat geliefd sal word onder die Afrikaanssprekende publiek. Dis egter ʼn stuk wat jou uitgeput laat, en nie geïnspireerd soos gewoonlik met opera die geval is ongeag die tema nie.

• Sanlam Ouditorium, 100 minute, R130
• 9 Oktober, 14:30
Klik hier om kaartjies vir dié vertoning te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.