Aardklop 2014: Koos mág maar in Afrikaans “Halleluja”!

Koos van der Merwe Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Koos van der Merwe Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees het die bekende sanger, Koos van der Merwe, definitief nie sy aanhangers teleurgestel met sy vertolking van Leonard Cohen in Afrikaans nie.

Die projek, Koos van der Merwe sing Leonard Cohen in Afrikaans, was een waaraan Van der Merwe, skrywer, digter, teoloog, liedjieskrywer en rubriekskrywer, lank gewerk het. Na meer as ʼn jaar het hy die einste mnr. Cohen sy groenlig gegee.

Wat die musiek só anders maak, is dat Koos nie net ʼn huldeblyk aan Cohen bring nie, maar die lirieke is alles vertaal. Die CD is reeds baie goed deur die publiek ontvang.

Koos, geklee in swart met ʼn baret op die kop, laat jou vir ʼn paar oomblikke voel asof jy by ʼn straatkafee iewers in Parys sit – en nie by Aardklop in ʼn baie warm Potchefstroom nie. Die klanke is mooi. Die woorde nog mooier. Dit is nie bloot vertaal nie: elke liedjie is met passie omskep in Afrikaans.

In een van die resensies wat verskyn het oor die vertoning, word daar verwys na Koos wat deur musiek op sy iPad begelei word, en die stuk sou seker inderdaad meer treffend gewees het met musikante en agtergrondsangers of selfs net ʼn kitaar of twee.

Koos gesels tussendeur oor die liefde, lees van sy eie gedigte voor uit sy nuwe digbundel, Rympies in die vliet, en lees selfs ʼn storie voor uit sy eerste kinderboek, Oom Koos se slaaptydstories.

Van die gunstelinge was Die Gypsy se vrou, Babilon en natuurlik het Halleluja uitgestaan.

As ek die vertoning met een woord moet opsom, is dit “opregtheid”. Koos het ʼn opregtheid aan hom wat ook deur sy musiek weerspieël word. Of jy nou ʼn aanhanger van Leonard Cohen óf Koos van der Merwe is, sal jy dié vertoning geniet.

Dit was ongelukkig reeds die laaste Cohen-vertoning by Aardklop, maar maak seker dat jy die CD in die hande kry.

Besoek gerus sy webwerf om te sien waar jy sy volgende vertoning kan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.