Aardklop 2015 is hier

Foto: aardklop.co.za

Foto: cloveraardklop.co.za

Kaartjieverkope vir vanjaar se Aardklop-kunstefees wat van 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom plaasvind, het vandag begin en feesgangers kan hulle weer verlustig in kuns, toneel en musiek by dié fees.

Die Aardklop-kunstefees het vroeër vanjaar weggestap met die Fiësta-toekenning vir die gewildste fees en vanjaar se program is weer propvol toneelstukke met van die land se beste akteurs. Sandra Prinsloo is te sien in die produksie Jani met regie deur Christiaan Olwagen. Sandton City Grootdoop, geskryf deur Wessel Pretorius, is ook by die fees te sien.

Neels van Jaarsveld is te sien in die komiese verhoogstuk Innie Rof. Die nuwe weergawe van PG du Plessis se Siener in die Suburbs is ook by die fees te sien met akteurs soos Shaleen Surtie-Richards, Christo Davids en Crystal-Donna Roberts.

Twee musieklegendes maak ook vanjaar ʼn draai by die fees: Amanda Strydom met Amanda Strydom – Die hele Boksemdaais en Laurika Rauch met Nie as ek sing nie. Laurika is vir die eerste keer in nege jaar weer by die fees te sien met slegs twee vertonings.

Karen Zoid en Francois van Coke wat vroeër vanjaar die internet aan die gons gehad het met hulle liedjie Toe vind ek jou is by die fees te sien met die gelyknamige vertoning.

Feesgangers wat belangstel in aktuele sake kan ook weer vanjaar uitsien na die reeks diskoersgesprekke wat gelei word deur Freek Robinson.

ʼn Volledige feesprogram is beskikbaar op Aardklop se webwerf en kaartjies vir die fees is beskikbaar by Computicket.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.