Aardklop 2016: Musiek vir elke smaak


Aardklop (Foto: Verskaf)

Aardklop (Foto: Verskaf)

Hoewel vanjaar se Aardklop-musiekprogram gewilde sangers soos Bobby van Jaarsveld, Karen Zoid en Theuns Jordaan insluit, maak dié program voorsiening vir byna elke musieksmaak onder son met produksies soos intieme teater en klassieke musiek.

Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder, sê vanjaar se omvattende musiekprogram sal sorg dat g’n enkele musiekliefhebber ontevrede huis toe gaan nie.

Benewens Van Jaarsveld, Zoid, Jordaan en ook Elvis Blue is kunstenaars soos Joshua na die Reën, Gloria Bosman, Anna Davel, Charl du Plessis en Timothy Moloi op die Sanlam-ouditorium se verhoog te sien in die produksie Hartklop. Dié produksie vier die beste van Suid-Afrikaanse musiek van die afgelope paar dekades.

Dié produksie is gemik op ʼn breë mark en is sluit kunstenaars in wat jy nie sommer gou weer saam op die verhoog sal sien nie. Christo Davids is die seremoniemeester.

Boonop spog vanjaar se program ook met intieme teater – ʼn nuutskepping wat kunstenaars in The Roots die geleentheid bied om voor ʼn kleiner gehoor op te tree.

Kunstenaars soos Jannie du Toit (Bonjour monsieur Brel), Herman van den Berg, Laurinda Hofmeyr (Wat ek wou sê) en Luna Paige (Luna Paige in solosang) kan by dié geleentheid gesien word.

“Vanjaar se program maak voorsiening vir ʼn breë gehoor,” sê Strachan. “Iets soos die intieme teater is ʼn nuwe konsep waaroor ons baie opgewonde is en hoop die mense gaan geniet.”

Liefhebbers van klassieke musiek word ook nie uitgesluit nie. Meer as tien musiekproduksies word vanjaar in dié kategorie aangebied, onder meer Sempre Opera se Mozart gaan fliek toe, ʼn program van bekende Mozart-arias wat deur die jare in flieks gebruik is. Die soliste is Deirdré Blignaut-Rautenbach (sopraan), Linette van der Merwe (mezzosopraan), Chris Mostert (tenoor) en Danie Verster (bas). Die Sempre Opera-ensemble staan onder leiding van Schalk J van der Merwe.

Charl du Plessis (Charl du Plessis Boogie Woogie Big Band), Wilken Calitz (Chromatique) en Elvis Blue (Singfonie van Stemme) is ook te sien.

“Charl du Plessis se produksie het heeltemal uitverkoop by die KKNK vanjaar, so dit is beslis iets waarna feesgangers kan uitsien. Elvis Blue se produksie is nog ʼn unieke geleentheid waar hy saam met 100 jeugkoorlede van regoor die land gaan optree. Dit is alles produksies wat feesgangers nie sommer weer sal teëkom nie,” het Strachan bygevoeg.

Amanda Strydom is vanjaar ook weer op die verhoog met ʼn Rugsak vol robyne, en Mathys Roets vier sy 21 jaar in die bedryf saam met Aardklop-feesgangers in Mathys Roets 21 jaar.

Luister na Maroela Media se gesprek met Alexa Strachan, feesbestuurder.

Lees alle berigte oor Aardklop op Maroela Media.

Lees die Aardklop-program. Besoek die Aardklop-webwerf en Facebook-blad.

Koop nou jou kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.