Aardklop: Amanda Strydom op haar beste

Amanda-Strydom-vuur-gevang-in-glas

Amanda Strydom. Foto: cloveraardklop.co.za

Kabaret-koningin Amanda Strydom het eintlik geen bekendstelling nodig nie. Dié sangeres is reeds vir ongeveer 40 jaar in die bedryf en het haarself gevestig as geloofwaardige kunstenaar met die skryf van haar eerste liedjie, “Ek loop die pad”, wat in 1979 bekendgestel is.

Vanjaar was haar Kanna-benoemde produksie “Die hele boksemdaais” by Aardklop te sien, wat uit ʼn samestelling van 36 jaar se musiek bestaan. Volgens Amanda was dit ʼn gesukkel om liedjies te kies.

“Dit was seker die moeilikste ding wat ek in my lewe moes saamstel, want hoe kies jy uit 36 jaar se vertonings en ʼn repertoire van nege albums?” Luister gerus hier na die volledige onderhoud wat Maroela Media vroeër vanjaar met Amanda gevoer het.

“Die hele boksemdaais” is ʼn rou en eerlike vertoning en vertel van ʼn mens wat haarself goed ken. Amanda gesels gemaklik oor die ouderdom, siekte, vriendskap en die dood. Sy word begelei deur Coenraad Rall, of soos sy hom noem, “die wind onder haar vlerke”.

Mens is geneig om Amanda in ʼn boksie genaamd “sangeres” te plaas, maar in dié vertoning word jy weer herinner aan watter ongelooflike aktrise sy is. Met ʼn skreeusnaakse skets waar Annetjie ʼn afsêbrief aan Ampie skryf, wys Amanda hoe veelsydig sy eintlik is. Dié skets was blykbaar een van Hennie Aucamp, wat sy as haar mentor en die “vader van Afrikaanse kabaret” beskou, se gunstelinge.

Amanda gesels oor haar vriendskap met Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel) en hoe sy dood haar geraak het. Sy praat (met baie eerlikheid) oor haar eie stryd as bipolêre lyer, asook haar eie verganklikheid en die “ou-word” proses.

Met bekende liedjies soos “Vrou by die spieël”, “My kamer” en “Slippers van satyn” sal lojale aanhangers nie teleurgestel wees nie, maar mense wat glad nie haar werk ken nie moet veral hierdie vertoning bywoon, want hierdie is Amanda Strydom op haar beste. Sy is skerp en laat mens maklik lag, en elke lied bring mens in vervoering en word met soveel deernis oorgedra, dat jy nie kan help om weggevoer te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.