Aardklop gaan nie voort; Suidoosterfees wel

Die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom sal nie in September vanjaar soos beplan voortgaan nie.

Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die kunstefees, het die nuus Dinsdag bekend gemaak.

Volgens Strachan het die onsekerhede wat die Covid-19-pandemie meebring en die impak op datums van skool- en universiteitsvakansies dié besluit deur die feesdireksie genoodsaak.

“Aardklop en die Noordwes-Universiteit (NWU)-kampus bly egter verbind tot die kunste en die kunstegemeenskap. Almal, van die kunstenaars tot tegnici, het nou meer as ooit ons ondersteuning nodig.”

Aardklop gaan daarom voort met ʼn verskeidenheid projekte, waaronder die Aardklop Aubade by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en die jaarlikse tiener- en studentetoneelproduksie Pronk Podium asook en die aanlyn kinderprojek, Klopkidz.”

Alexa Strachan. (Foto: Verskaf)

ʼn Opwipfees word wel beplan met aanbiedinge wat van September tot November vanjaar in Pretoria, Johannesburg en Potchefstroom sal plaasvind. Dit sal onder meer toneel- en musiekproduksies, boekgesprekke en debatte insluit.

Die Suidoosterfees in Kaapstad gaan egter vanjaar in ʼn kleiner, meer intieme formaat van 26 April tot 1 Mei voort.

Produksies sal hoofsaaklik by die Artscape-teater, die tuiste van die Suidoosterfees, aangebied word terwyl ander produksies in die gewilde inryteaterformaat by die Atlantic-ateljee te sien wees.

Prof. Brian Figaji, direksievoorsitter, sê die Suidoosterfees bly daartoe verbind om werksgeleenthede vir kunstenaars te skep en om ʼn veilige omgewing vir gehore te skep waar hulle ʼn verskeidenheid van teater, musiek en gesprekke kan geniet.

Die Suidoosterfees sal vir die volgende week elke dag ’n nuwe programafdeling aankondig.

“Feesgangers gaan moet spring om kaartjies te kry. Ons beveel aan dat daar reeds vroegoggend gekyk word na die aankondigings, en dat mense dadelik moet bespreek om teleurstelling te voorkom,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter Pan ·

So bly Aardklop is gekanselleer.. Maar ook hartseer vir die mense wat nie inkomste gaan verdien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.