Aardklop-gangers kan vanjaar veiliger fees

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop. (Foto: Aardklop)

Feesgangers wat volgende maand na Potchefstroom stroom vir die 2019 Aardklop Nasionale Kunstefees sal vanjaar veiliger kan fees vier danksy opgraderings aan die immergewilde Bult in dié Noordwes-dorp.

Die Bult is bekend as uithangplek vir studente van die Noordwes-Universiteit (NWU), maar is ook die bekende terrein van Aardklop. Delmari van Zyl, woordvoerder van die fees, sê hulle is daarom baie opgewonde oor die verwikkelinge en opgraderings wat vir die Bult beplan word.

“Die Cachet Park City Improvement District (CID) is vir die afgelope sewe maande besig met opgradering en beveiligingsprojekte in die gebied. Die projek, wat deur eiendomseienaars in die gebied, insluitend die NWU, gefinansier word, het reeds ’n noemenswaardige impak in die omgewing gemaak,” verduidelik sy.

Dit sluit in die installering en 24 uur gewapende reaksie-monitering van 200 kringtelevisie-veiligheidskameras, tuin- en straatskoonmaakdienste vir die hele gebied, vullisverwydering en herwinning, instandhouding van paaie, verkeerstekens en sypaadjies en verfraaiing van die gebied.

Die projek word onder leiding van prof. Fika Janse van Rensburg, oud-rektor van die NWU Potchefstroomkampus en voorsitter van Aardklop se direksie, gedoen in samewerking met die NWU, die JB Marks- plaaslike munisipaliteit, die Potchefstroomse Sakekamer, plaaslike sake- en eiendomseienaars, die SAPD en die GPF.

“Hoe gereeld hoor ons stories van openbare ruimtes waar die veronderstelde gebruikers daarvan vervreemd voel as gevolg van kriminaliteit en verwaarlosing,” sê Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder. “Hier is ʼn inspirerende voorbeeld van samewerking tussen sakeondernemings, owerhede en burgerlikes. En die bonus vir Aardkloppers: ʼn Veilige omgewing vir deelnemers aan die kunsrevolusie wat wag.”

Van Zyl sê behalwe dat die Bult nou skoner en veiliger as voorheen is, kan feesgangers ook hul voertuie met gemoedsrus parkeer terwyl hulle die fees geniet. “Tydens Aardklop sal daar geen informele of selfaangestelde karwagte wees nie. Die area, wat onder 24/7 gewapende reaksie monitering van veiligheidskameras sal wees, sal ook onder die wakende oog wees van sekuriteitspersoneel van Mooirivier Beskerming – wat geen fooitjies mag ontvang nie.”

Aardklop vind van 24 tot 29 September in Potchefstroom plaas en kaartjies vir die magdom produksies wat aangebied word, is nou by Ticketpro beskikbaar. Besoek Aardklop se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

Lees alle vorige berigte oor Aardklop 2019 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Risko ·

Die jool plaas het dit steeds beter vir gesinne gemaak om hulle kinders te vermaak. Die bult se vermaak binne die fees area is swak en ek mis die dae wat ons vir ure op ‘n gehuurde stoel na van ons beste sangers kon kyk. Geen mallemeule, stam karretjies ens vir die kleinspan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.