Aardklop: Helena Hettema bekoor met glansproduksie

helena-hettema

‘n Skermskoot uit die Helena Hettema se musiekvideo ‘Skadudans’. Foto: Helena Hettema/Facebook.

Die gevierde kabaretkunstenares, sangeres, liedjieskrywer en aktrise, Helena Hettema, het reeds diep spore in plaaslike gehore se harte getrap.

Dit is veral liedjies soos “Sonkring” en “Tolbos in die wind” uit die klankbaan van die televisiereeks Sonkring en haar weergawe van die Franse sangeres Edith Piaf se kabaretmusiek wat haar bekend en bemind gemaak het.

Nou wil sy haar aanhangers en musiekfynproewers nooi om saam met haar op reis te gaan deur 27 jaar van musiek met ʼn kragtoer van ʼn glansproduksie wat op die planke te sien sal wees by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees.

Helena Hettema 21+ is ʼn opwindende produksie en daar is ʼn groot verskeidenheid musiekstyle van pop, rock, folk, jazz en ballades by die vertoning ingesluit. Die produksie is beslis ook iets vir die oog met talle kostuumveranderings en pragtige choreografie,” sê Helena.

Sy word op die verhoog vergesel van die opwindende groep Con Grazia wat onlangs ʼn Ghoema-prys gekry het. Die meisies sal saksofoon, viool en fluit speel en Helena met harmonieë bystaan.

Lindsay Liebenberg van haar destydse groep Golden Fleece tree ook op as gaskunstenaar op baskitaar en Gerald Brookshaw sal kitaar speel terwyl Marelize Koch vir Helena op klavier sal begelei.

“Ek glo mense wat wyd luister na musiek sal hierdie produksie veral geniet. Dit bied ʼn groot verskeidenheid, maar is beslis ʼn kunssinnige vertoning en dalk meer vir die musiekfynproewer.”

Juis omdat Aardklop dit regkry om steeds ʼn gewilde kunstefees te wees terwyl dit ook verhoogtyd bied aan meer kunstige produksies, keer dié sangeres graag en gereeld na die fees terug.

“Ek het self al agt keer by die fees opgetree en dit is een van die eerste kunstefeeste wat ek bygewoon het. Ná al die jare slaag Aardklop steeds daarin om sielskos vir teatergangers te bied,” voeg sy by.

Helena Hettema 21+ is ʼn viering van die sangeres se jare in die vermaaklikheidsbedryf en dit bring haar jongste album met dieselfde naam, wat verlede jaar by die Atterbury-teater bekendgestel is, na die verhoog.

Tog is daar nog ʼn rede waarom hierdie produksie vir Helena uitsonderlik is en dit is eintlik die hoofrede hoekom sy besluit het om dit aan te pak.

“Ek is deur ʼn baie donker en hartseer tyd met my pa, Jan Hettema, se moord in 2016. Wat my aan die gang gehou het, was om hierdie album te maak. Dit was vir my ʼn genesing en ek wou hulde bring aan my pa wat dikwels saam met my gesing het.”

Sy sing “Unforgettable” in die produksie wat sy spesiaal aan haar pa opgedra het omdat hy self so lief was vir die liedjie, asook ʼn lied “Thousand winds that blow” wat sy vir hom geskryf het.

Helena glo jy word ʼn kunstenaar gebore en solank jy geïnspireerd bly en wil skep, sal jy aanhou sing.

“Musiek is in jou bloedstroom en met jare lange ondervinding in die bedryf raak jy net gemakliker en meer ontspanne in jou optredes. Ek dink ek het nog baie om te bied en gaan beslis nie binnekort ophou om op te tree nie.”

  • Helena Hettema se glansproduksie, Helena Hettema 21+, is op 2 Oktober om 10:30 en 3 Oktober om 20:00 by die Elgro Hotelsaal in Potchefstroom by Aardklop te sien. Kaartjies vir die produksie kan by Ticketpro bespreek word. Besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting.
  • Helena Hettema het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor haar produksie wat op 2 en 3 Oktober by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom te sien sal wees. Sy verduidelik hoekom hierdie produksie so spesiaal vir haar is en hoekom sy graag na Aardklop terugkeer as sy die geleentheid het. Luister na dié gesprek en Helena se lied, “Skadudans”, boaan hierdie berig.

Kyk hier na Helena se musiekvideo van die lied “Skadudans”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rina Kotze ·

Daai Stem wat Sonkring gesing het, het my nog altyd betower!

Wens ek was nader om dit te kon hoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.