Aardklop se hart tamboer vanjaar selfs sterker

Feesgangers staan tou om by die terrein in te gaan (Foto: Aardklop)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat vroeër vandeesweek met ʼn slag op Potchefstroom afgeskop het, is terug met mag én mening.

Dié fees se kaartjieverkope was teen Woensdagoggend reeds sowat 30% hoër as dieselfde tyd verlede jaar.

Delmari van Zyl, die fees se bemarkingskoördineerder, sê alle tekens dui daarop dat vanjaar se fees wéér ʼn dawerende sukses gaan wees.

“As ons kyk na die kaartjieverkope wat reeds 30% hoër is, dui dit daarop dat vanjaar se fees weer ʼn sukses gaan wees. Ons is geweldig bly daaroor, veral omdat almal bewus is van die ekonomie wat die meeste mense se sak ruk. In dié stadium is ons dankbaar dat feesgangers Aardklop baie geniet.”

Feesgangers geniet die kosstalletjies op die feesgronde (Foto: Aardklop)

Van Zyl sê die Aardklop-feesterrein, wat vanjaar weer op Die Bult is, het baie met die fees se sukses te make. “Die Bult is die fees se hartklop, en tot dusver het ons nog net positiewe terugvoer van feesgangers gekry. Die kaartjies is natuurlik ook bekostigbaar en die terrein het ʼn magdom stalletjies waarvan feesgangers kan kies en keur.”

Nege groot markiestente staan vanjaar op die feesterrein en meer as 30 kleiner tente het ook verskeie winkels of eetplekke. Vanjaar se fees bied meer as 40 verskillende kosstalletjies en meer as 400 kunsvlytstalletjies is op die feesterrein te sien.

Afgesien van die feesterrein, word verhoogproduksies vanjaar by 18 verskillende lokale aangebied. Meer as 350 vertonings is deur die loop van die week nog te sien en meer as 700 kunstenaars is betrokke by Aardklop.

Van Zyl sê feesgangers, van wie die meeste uit provinsies soos Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap en Vrystaat kom, dra geweldig by tot die ekonomie van Potchefstroom. “Aardklop is ʼn wonderlike geleentheid om die ekonomie van Potchefstroom ʼn hupstoot te gee. Afgesien daarvan, probeer die fees ook die plaaslike gemeenskap omarm en ondersteun deur sowat 300 personeellede te hê wat deur die loop van die week vir Aardklop werk.”

Altesaam 70 000 feesgangers word deur die loop van die fees verwag. Laatslapers het min tyd om verblyf te bespreek en talle produksies is byna reeds uitverkoop.

Talle vertonings van produksies soos DEURnis, Maak vir my ʼn vlieër, Pa, Geheime taal en Volksbesit is reeds uitverkoop. Ander produksies wat ook uitstekend vaar, is onder meer 3 van die bestes, 20 jaar later, Laurika Rauch met Loki Rothman: Blou en Ag, kom ek val sommer die Holm in die huis.

Feesgangers geniet die kosstalletjies op die feesgronde (Foto: Aardklop)

ʼn Groot trekpleister by vanjaar se fees is die gratis verhoë op die feesterrein waar bekende kunstenaars vanjaar te sien is. Sangers soos onder andere Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Jay, Nicolas Louw en The Voice United-kunstenaars is by die gratis verhoë te sien. Vir ʼn alternatiewe klank is kunstenaars soos Dawie de Jager, Saarkie en Beeskraal by die Ontprop-verhoog te sien.

Aardklop word nog tot 8 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.