Aardklop se Taxi-Teater betower feesgangers

Plaaslike talent is ook ten toon gestel. Foto: Maroela Media

Plaaslike talent is ook ten toon gestel. Foto: Maroela Media

Die Aardklop Nasionale Kunstefees het Dinsdag afgeskop, en feesgangers het reeds in hul duisende opgedaag om dié Potchefstroomse kunstefees te ondersteun.

Benewens die talle verhoog- en musiekproduksies, is dit veral die nuwelingproduksie, Taxi-teater, wat die aandag trek.

Maroela Media het Dinsdag die tweede aflewering van dié program bygewoon.

Dié nuwe toevoeging tot die fees se doel is eenvoudig: om vooroordele af te breek, veral met betrekking tot kultuur, deur die kreatiewe benadering om feesgangers in ʼn taxi te laai en te vervoer na gebiede waar verskillende kulture seëvier.

Feesgangers was Dinsdag onder meer in Ikageng, Promosa en by die Potchefstroom-dam.

Feesgangers geniet Aardklop se Taxi-teater. Foto: Maroela Media

Feesgangers geniet Aardklop se Taxi-teater. Foto: Maroela Media

Opgewondenheid het hoogty gevier tussen die groep van bykans 30 persone terwyl feesgangers, sommige vir die eerste keer ooit, aan ʼn groot verskeidenheid tradisionele kosse van die verskillende kulture kon smul. Die spyskaart het onder meer bestaan uit hoendernek en -pote, kerrie-en-rys, afval en tuisgemaakte gemmerbier.

Die boodskap van die program is duidelik: Potchefstroom bestaan uit veel meer as Die Bult en die universiteit.

“Ek bly al nege jaar in Potchefstroom, en ek was nog nooit in Ikageng of Promosa nie,” het Monica de Wet, ʼn feesganger, gesê. “Dit was wonderlik om só verwelkom te word. Dis byna asof daar ʼn ander wêreld buite die grense van Potchefstroom is.”

Laurinda Hofmeyr vermaak feesgangers. Foto: Maroela Media

Laurinda Hofmeyr vermaak feesgangers. Foto: Maroela Media

Taxi-Teater was ook ʼn geleentheid vir feesgangers en toerleiers om prontuit te praat en vrae te vra oor die verskillende kulture. “Die doel hiervan is sodat ons mekaar beter kan verstaan. Dis sodat elkeen kan besef die wêreld behoort aan almal, en ons moet in harmonie saamleef,” het die toerleier gesê.

Benewens sommige se eerste ervarings in ʼn ‘regte’ taxi, is hulle ook bederf deur die musiekgroep Die Wasgoedlyn.

Taxi-Teater is nog op die volgende tye te sien:

  • Woensdag, 5 Oktober om 12:00 en 15:00
  • Donderdag, 6 Oktober om 12:00 en 15:00
  • Vrydag, 7 Oktober om 12:00 en 15:00
  • Saterdag, 8 Oktober om 12:00 en 15:00

Koop jou kaartjies by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.