Aardklop wip weer op in nuwe stel vere

Aardklop 2019 (Foto: Verskaf)

Feesgangers en stalletjie-aanhangers kan hul vere regskud vir ’n opwindende en besige Aardklop-program wat later vanjaar op hulle wag.

Nie net wip die bekende fees weer op in Pretoria nie, hy keer terug na sy geboortedorp, Potchefstroom, toe en diegene wat hulself in Linden en omliggende gebiede bevind, kan uitsien na ’n heerlike draai wat die fees in daardie geweste ook gaan maak.

“Weens die pandemie het ons verlede jaar ’n opwipfees by die Voortrekkermonument en Atterbury Teater in Pretoria gehad. Mense het die behoefte aan ’n kulturele inspuiting gehad. Ná afloop van die sukses en belangstelling het ons besluit om die formaat voort te sit.”

Nadat die organiseerders van die fees na skole, kerke en sakeondernemings in Linden uitgereik het, het dit kristalhelder geword dat die fees daar ook moet kuier.

“Die terugvoer was werklik positief. Linden is soos ’n klein Afrikaanse dorpie in ’n groot stad.”

Die formaat is nie die enigste nuwe prentjie op Aardklop se 2022-bladsy nie.

“Die lekkerste en nuutste baadjie is ons nuwe borg, Momentum Beleggings, ’n been van Momentum. Hulle is net so passievol oor kunste en teater, dis werklik ’n nommerpas-vennootskap,” het Wynette Theart, assistent van borge, media en bemarking van Aardklop, aan Maroela Media vertel.

Feesgangers kan uitsien na bekende gesigte soos Frank Opperman, Antoinette Kellerman, Nataniël, Sandra Prinsloo en Margit Meyer-Rödenbeck wat by die fees te siene sal wees.

Daar is ook die opwindende vooruitsig van wemelende wandelaars deur die stalletjies heen, iets wat feesgangers voor die pandemie laas ervaar het.

“Nie net is dit vir ons belangrik om weer aan kunstenaars en musikante ’n speelvak te bied nie, ons wil graag ook weer uitstallers nooi om deel te word van die fees.”

Die program van die fees is nog nie bevestig nie.

  • Uitstallers, kunstenaars en musikante word uitgenooi om aansoek te doen om deel van die fees te kan wees. Vir meer inligting hieroor, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.