‘ABBA Voyage’ skop af

Björn Ulvaeus, Agnetha Fältskog, Anni-Frid Lyngstad en Benny Andersson. (Foto: ABBA Voyage/Instagram)

Vir die eerste keer in 14 jaar is die vier lede van die Sweedse popgroep ABBA weer saam in die openbaar gesien, en dit boonop om die première van ABBA Voyage in Londen by te woon.

Dié indrukwekkende vertoning word al sedert 2016 beplan en het van baanbrekertegnologie gebruik gemaak om die groep se goue jare te herroep. Die gehoor het dus die geleentheid gekry om ABBA te sien soos wat hulle gedurende die 1970’s gelyk het.

@abbavoyage

This. Is. ABBA. Voyage. #ABBA #ABBAVoyage @abba

♬ original sound – ABBA Voyage

Agnetha Fältskog, Anni-Frid Lyngstad, Björn Ulvaeus en Benny Andersson kon vir die eerste keer hul skoene uitskop en die geleentheid as deel van die gehoor geniet.

Die groep het 42 jaar gelede vir die laaste keer saam opgetree.

Ulvaeus het aan die BBC gesê dat hy graag iets wou skep wat niemand nog ooit ervaar het nie.

“Na hierdie vertoning dink ek dat daar ’n hele paar ander dieselfde sal wil doen, indien hulle nog lewe,” het hy gesê.

Bekendes soos Kylie Minogue, Keira Knightley en Jarvis Cocker het die première bygewoon.

Die Sweedse koning Carl XVI Gustaf en sy vrou, Silvia, was ook in die gehoor.

“In my hart het ABBA ons nooit verlaat nie,” het Fältskog op die rooi tapyt aan BBC gesê.

Lyngstad het weer gesê dat sy al jare lank oor so iets gedroom het.

“Ons is lief vir ons musiek; ons is lief daarvoor om te sing.”

@abbavoyage

Tonight’s final word from Björn #ABBAVoyage #ABBA @abba

♬ original sound – ABBA Voyage

Die groep het vyf weke lank in spesiale uitrustings opgetree met 160 kameras wat elke beweginkie dopgehou en skandeer het.

Dié beeldmateriaal is toe later as verwysing gebruik om avatars, oftewel “ABBA-tars”, te skep.

Die vertoning vind in ’n spesiale arena in Londen plaas en sal tans tot en met Desember op die planke wees.

Andersson het egter aan die BBC gesê dat indien daar belangstelling is, sal die vertoning op ander plekke in die wêreld voortgaan.

Die vervaardigers van die reusekonsert het benadruk dat die figure nie hologramme is nie, maar dat dit op ’n massiewe, 65 miljoen pixel‑skerm uitgebeeld is.

’n Duisend visuele-effektekunstenaars het aan die vertoning gewerk, 500 ligte is in die arena gebruik en 3 000 mense kan elke vertoning sien.

Daar is van ligte en ander digitale elemente gebruik gemaak om die brug tussen die digitale vertoning en die werklike arena te bou.

“As jy gekom het om ’n visuele skouspel te sien, het ons misluk. Ons wil hê jy moet hier uitstap nadat jy gedurende die vertoning gelag en gehuil het. Ons wil aan emosies torring,” het een van die vervaardigers, Svana Gisla, aan die BBC vertel.

Bron: BBC 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.