Abel Knobel: ‘Die oomblik hier is genoeg’

Abel Knobel het met Maroela Media gesels oor sy nuwe musiek. (Foto: Verskaf)

“Ons kyk al ewig terug na ons verlede en oordeel die toekoms daarvolgens, maar soms moet ons net stil staan, die oomblik inneem, en besef waar ons nou is, is genoeg.”

Só sê die musikant Abel Knobel oor die splinternuwe enkelsnit, “Soveel meer”, uit sy eie pen. Hy vertel die snit het vir vier jaar in sy hart gegroei voordat dit op papier uitgevloei het.

“Die opbouende woorde van die liedjie gaan oor die mens se instinktiewe begeerte om gedurig te streef na meer in die lewe.”

Die inspirasie vir die liedjie kom juis uit sy kinderdae waar hy die plaas naby Bethlehem in die Vrystaat se oop vlaktes as sy speelgrond gehad het.

Die lirieke en opgewekte wysie, met ʼn kontemporêre, akoestiese aanslag, is net wat nodig is om die lente te verwelkom.

“Ons moet glo dat daar soveel meer vir ons is en wat op ons wag as ons dit maar net kan raaksien,” voeg hy by.

(Foto: Verskaf)

Knobel hoop dat die liedjies mense sal inspireer en sal herinner om te glo soos ʼn kind en sorgeloos te droom.

“Dit is hier waar die drome in ons harte ons sal kan neem op ʼn kinderlike avontuur waar niks vir ons onmoontlik is nie.”

Volgens Knobel is die geheim egter om stil te raak en tyd te maak om te kan droom in vandag se gejaag, weg van skerms wat ons aandag verdeel.

Hy was deel van die Ghoema-benoemde Afrikaanse popgroep NRG en het op die Innibos-kunstefees se hoofverhoog ʼn draai gemaak. Een van sy toekomsdrome is om saam met die kunstenaars en liedjieskrywers soos Riana Nel, Elvis Blue, Karen Zoid en Joshua na die Reën te werk.

Knobel sing egter nie net van drome en hoop nie. “Ek het self al berge versit met erge episodes van depressie en bipolêre geestesversteuring waaraan my oupa ook gely het. Ek het op ʼn stadium dit selfs oorweeg het om, soos my oupa, my eie lewe te neem. Met goeie hulp en geloof kon ek dit oorwin. Die seer en gebrokenheid van die wêreld inspireer my seker die meeste om te skryf en te sing. Daar is altyd hoop en daardie boodskap wil ek graag laat deurskyn in die musiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.