ADAM groet ná 10 jaar

Reynardt Hugo, Kyle Grant en Hugo Ludik, die drie lede van ADAM. (Foto: Verskaf)

Die musiekgroep ADAM het besluit om ná tien suksesvolle jare in die musiekbedryf die tuig neer te lê.

Dié trio wat in ʼn stadium van groeplede verwissel het, het besluit om einde vanjaar te ontbind. Luidens ʼn verklaring wil die drie groeplede, Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant, nou op hul individuele projekte fokus.

ADAM sal egter nog tot die einde van die jaar beskikbaar wees vir optredes.

Ludik, een van die stigterslede van ADAM, sê hoewel die afgelope tien jaar ʼn ongelooflike reis was, het hulle besluit om dié hoofstuk van hul lewens af te sluit. “Dankie aan almal wat agter die skerms gehelp bou het aan hierdie geesteskind van my, asook aan elkeen wat ’n CD gekoop of vertoning bygewoon het of op enige ander manier ADAM ondersteun het. Julle het bygedra om hierdie droom van my te bewaarheid!” het hy gesê.

Hugo sê hy is baie trots op wat die groep die afgelope dekade bereik het. “Ons musiek was uit ons harte en dit was wonderlik om dit met julle te kon deel,” het hy gesê.

“Dankie vir al die lojale ondersteuners deur die jare – sonder julle sou ons sukses nie moontlik gewees het nie. Elke dorpie en elke kliënt, ek sê vir julle baie dankie! Aan my medegroeplede – dit was ’n eer om saam met julle die verhoog te kon deel. Deur dik en dun het ons saamgestaan, het ons musiek ons no. 1-prioriteit gebly en het ons ons liefde vir musiek gedeel.”

Grant het op sy beurt gesê sy ses jaar as deel van ADAM het hom met ongelooflike herinneringe gelaat. “Ek wil baie dankie sê aan elke liewe persoon wat oor die afgelope ses jaar my hart geraak het. Die tyd het nou gekom vir ons om aan te beweeg, sodat ek my kunstenaarskap verder kan bevorder. My groot droom is om te bly sing en om Suid-Afrikaners bymekaar te bring. Ek sien uit na die pad vorentoe en sal die mooi herinneringe vir altyd koester,” het Grant gesê.

ADAM was deur die jare verantwoordelik vir ʼn hele reeks treffers, insluitend “Liefde soldaat”, “Kasteel”, “Gebore om jou lief te hê”, “Sal oorlog vir jou maak”, “Sê my”, “Iets in die water” en talle ander liedjies. Die groep het ook verskeie groot musiektoekennings verower en selfs ’n draai op die silwerdoek gemaak in die lokettreffer Pad na jou hart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna ·

Baie jammer, het baie van hulle musiek gehou. Sterkte op jul pad vorentoe

Nita ·

AG NOOIT, LOVE HULLE,, tog is ek baie bly vir hulle. Alle voorspoed vorentoe.

Deloris ·

Nie n groot fan van hulle nie maaaar Ek wens julle al drie net die beste toe op julle pad vorentoe en wat julle Elk gaan aanpak… Voorspoed en sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.