Adam Tas maak weer geskiedenis

Adam-Tas

Adam Tas maak weer geskiedenis deur die eerste Afrikaanse musikant te word wat ‘n iTune Sessions-album uitbring. Foto: Verskaf.

Omtrent tien jaar nadat Adam Tas die Guinness-wêreldrekordboek gehaal het as die kunstenaar wat by die meeste plekke op een dag opgetree het, het hy weer geskiedenis gemaak.

Adam het verlede jaar die gewildste Afrikaanse kunstenaar op iTunes geword, en dit het gemaak dat hy ‘n ekslusiewe plek in die iTunes Sessions-ateljee gekry het. Hy sluit hom aan by ‘n groep kunstenaars wat groot name soos Belinda Carlisle, Coldplay, Blondie en Thirty Seconds to Mars insluit.

Die album gaan akoestiese weergawes bevat van sewe van sy grootste treffers, onder meer In die huis waar stilte woon, Skilpadtepel, Draadloos-dae, ‘n Man soos my pa en Reën. Hy beplan ook om later vanjaar ‘n album vry te stel waarop hy hulde aan die legendariese country-sanger Johnny Cash gaan bring, en as ‘n voorsmakie daarvan, het hy besluit om Cash se treffer God’s gonna cut you down, in te sluit.

Volgens Ernst Kleinhans, die algemene bestuurder van Adam se platemaatskappy, Select Musiek, is hierdie album nie net ‘n deurbraak vir Adam nie, maar vir Afrikaanse musiek in die algemeen. Hy beskou dit as ‘n voorreg om Afrikaans deur musiek te bevorder en hy hoop dat dit die eerste van vele sulke opnames sal wees.

Die Sessions-album sal aanstaande week bekendgestel word, maar voorafbestellings, met twee snitte ingesluit, kan reeds geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Wonderlik. Baie geluk Adam. Sterkte met die optrede. Ek kan nie wag vir jou CD met Johnny Cash se huldeblyk nie.

Bets ·

Baie geluk! Geniet jou musiek n hond uit n bos! Sterkte vir al die optredes die jaar! Wag vir daai “tribute”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.