Adam Tas oor Cash-album, Loopgraaf Films en Desember-toer

Adam-Tas

Adam Tas. Foto: adamtas.co.za

As jy nie ʼn aanhanger van Adam Tas óf Johnny Cash is nie, sal Adam se nuwe album, ’n Tas vol Cash, jou anders oortuig.

Die album bevat 16 snitte waarvan slegs een ʼn oorspronklike komposisie is. Dit is ook die titelsnit van die album. “Dit is soortgelyk aan die styl wat Johnny Cash sou gevolg het, maar natuurlik nou net in Afrikaans,” vertel hy. “Die liedjie gaan oor ʼn boef, en my groot inspirasie was ons fantastiese president,” skerts hy.

“Ek is ʼn groot liriek-mens,” vertel hy verder. “As die liedjie nie vir my iets sê nie, dan sal ek dit nie doen nie. My eie musiek is ook absoluut liriekgedrewe. As jy my nie kan hoor by ʼn vertoning nie, dan kan jy netsowel huis toe gaan, want dit gaan jou niks baat nie,” sê hy oor sy musiek.

Tussen die musiekmakery deur het Adam ook ʼn filmmaatskappy, genaamd Loopgraaf Films, begin. “Ek en my vriend Kobus Bezuidenhout, wat altyd saam met my musiek skryf, het besluit ons wil ʼn fliek maak. Ons het toe die draaiboek geskryf vir die film, Die hooglied van Gabriël Engels. Ek wou nie iemand anders vra om die fliek te maak nie en so het dit begin,” sê hy.

Adam het ook tyd in sy besige program ingeruim om ʼn kustoer te beplan. “Die toer is lekker vir die mense wat met vakansie is. As ek op die verhoog is, ruik ek die crowd se sun tan lotion en braaivleis,” lag hy. Die toer skop af in Plettenbergbaai op 18 Desember.

Luister na die volle onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.