Afri-Duetfees ’n reusesukses

afri-duetfees-2016

Anneli van Rooyen sing saam Nicholis Louw en Louis Loock tydens vanjaar se Afri-Duetfees. Foto: FAK/Facebook.

Die jaarlikse Afri-Duetfees is onlangs by die ZK Matthews-saal by die Universiteit van Suid-Afrika aangebied. Dit is die derde jaar dat dié geleentheid plaasgevind het.

Daar was vanjaar vier duetpare wat aan dié fees deelgeneem het. Louis Loock het bekendheid verwerf as een van die lede van die groep Romanz, maar sedert dié groep ontbind het, het hy ’n suksesvolle solo-loopbaan begin volg. Sy duetmaat was Anna Davel, wat al verskeie suksesvolle albums vrygestel het. Die eerste lied wat hulle saamgesing het, was Louis van Rensburg se toonsetting van Boerneef se gedig “Voshaarnooi”. Op sy nuwe album het Louis ’n aantal bekende Afrikaanse liedjies opgeneem waarvoor daar ook Italiaanse woorde bygeskryf is. Een daarvan is Sonja Herholdt se bekende treffer, “Ek verlang na jou”, wat hy en Anna saamgesing het.

Net een van die duetpare wat deelgeneem het, sing voltyds saam, naamlik die egpaar Willie en Natasha Joubert. Hulle sing gewoonlik Christelike musiek, maar hul eerste bydrae tot die fees was “Somewhere out there”, wat oorspronklik deur James Ingram en Linda Ronstadt gesing is.

Nicholis Louw en Liezel Pieters is twee van die lede van die groep 4 Werke, en daarom was dit geen verrassing dat hulle hul nuwe treffer, “Jy slaan die wind in my seile”, gesing het nie. “Generaal” was een van Nicholis se grootste treffers tot dusver en hy en Liezel het dit as ’n duet gesing. Die vierde en laaste duetpaar was Nico Strydom en Charlotte Kilian, wie se aanslag meer klassiek van aard is. Daar was al meer as een Afrikaanse weergawe van “La Voix”; een deur die sopraan Vera-Marie en een deur Romanz en Nianell. Die lirieke van dié twee weergawes verskil en Nico en Charlotte het eersgenoemde weergawe gesing.

Met die volgende lied het Nicholis bewys dat hy tot meer in staat is as die pop- en rockmusiek wat hom gewild gemaak het. Hy, Louis en Liezel het Verdi se bekende “Brindisi” uit die opera La Traviata gesing, en die meeste mense kon nie glo dat hy dit kon regkry nie. Hulle vergeet, of weet dalk nie, dat hy klassiek opgelei is nie.

Dit was egter nie die enigste hoogtepunt van die aand nie, want ’n legende van Afrikaanse musiek is  deur die FAK vereer vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Anneli van Rooyen is al meer as 30 jaar lank een van ons land se gewildste Afrikaanse kunstenaars en sy was teenwoordig om die toekenning te ontvang. Die kunstenaars het ook verskeie van haar treffers gesing. Willie en Natasha het “Halleluja”, seker haar grootste Christelike treffer, gesing, en Nico, Liezel en Charlotte het die gehoor lekker laat lag met hul weergawe van Anneli se eerste groot treffer, “Sewe sakke sout”. Die uitvoerende hoof van die FAK, dr. Danie Langner, het vertel hoedat hy hierdie liedjie in die sangklas op laerskool geleer het. Die hoogtepunt van hierdie deel van die program was toe almal haar treffer ,“Seënbede”, gesing het.

Die tweede helfte van die program het weer eens op ’n klassieke noot begin met Nico en Charlotte se weergawe van die bekende “Nessun dorma”. Nicholis het sy veelsydigheid bewys toe hy en Liezel “The phantom of the opera” gesing het. Hierop het hy ook bewys dat hy die orrel kan bespeel. Nicholis en Louis het die gehoor verstom met hul eie “Bryan Adams en Luciano Pavrotti”-weergawe van “O sole mio”.

Die fees is afgesluit met ’n Christelike program, met Willie en Natasha wat Andrea Bocelli en Celine Dion se bekende “The prayer” gesing het. Nog ’n bekende lied wat hulle saamgesing het, was “The garden”, wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is. Nicholis en Liezel se weergawe van Josh Groban se bekende treffer, “You raise me up”, was een van die hoogtepunte van die konsert. Nog twee hoogtepunte was “When a child is born” en “Gloryland”, wat deur Louis en Anna gesing is. Die konsert is afgesluit met ’n weergawe van die Slawekoor uit Verdi se opera Nabucco.

Die Afri-Duetfees was ’n groot sukses, soos die feit dat dit al vir die derde jaar aangebied word, bewys. Daar was ’n groot verskeidenheid kunstenaars wat opgetree het, en sommige van hulle het ’n mens werklik verras met hul talent en veelsydigheid. Daarom was dit baie beslis die moeite werd. Die datum vir aanstaande jaar se fees is ook al bekendgemaak, naamlik 20 Oktober, en dít op sigself is ’n bewys dat daar groot belangstelling is. Dié wat dit nie vanjaar bygewoon het nie, moet beslis aanstaande jaar ’n plan maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.