Afrikaans: Die klankbaan van Anna Davel se lewe

Anna Davel (Foto: Anna Davel/Facebook)

Anna Davel is by die meeste Suid-Afrikaners bekend vir haar fluweelstem en treffende lirieke. Daarmee bekoor sy gehore al die afgelope twee dekades.

Haar loopbaan het in 1997 begin toe sy as die algehele wenner van die Crescendo- nasionale sangkompetisie aangewys is en sy het later by die a capella-groep Cutt Glass aangesluit voordat sy met ʼn solo-loopbaan begin het.

Davel spog met nege hoogaangeskrewe albums, ʼn Sama en verskeie ander benoemings en toekennings. Sy het benewens rolle in verskeie TV-programme ook al ʼn draai of wat op die silwerdoek gemaak.

Maar wat jy dalk nie van Davel weet nie is dat sy boonop ʼn kranige kunstenaar is. Kan sy nog haar eerste skets of skildery onthou? Ja, trouens, sy het dit nog by haar.

“My ma het so ʼn paar ‘kunswerke’ van my van kleuter- en laerskool gehou. Ek beplan om dit weg te gooi, maar kon dit nog nie regkry nie, omdat ek ʼn baie sentimentele mens is.” Een van haar eerste sketse is dié van ʼn swaan. Daarna het haar kunsloopbaan op interessante wyse ontwikkel.

“Ek skilder al van skool af. Dit was een van my matriekvakke,” vertel sy. “Ek het al my vry periodes en meeste pouses in die kunsklas deurgebring, want dit was vir my die heel lekkerste ding om te doen.” Sy onthou dat sy ʼn wonderlike kunsonderwyser gehad het in die persoon van mnr. Connie Pretorius op Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom.

Davel wou kuns gaan studeer, maar die PUK het hulle graad in beeldende kunste na grafiese kuns verander. “Ek het nie die rekenaarelement geniet nie, en het toe met musiek begin. Ek het my kursus halfpad gewysig en in my finale jaar op kunsgeskiedenis gefokus.”

As heetydse musikant het Davel egter min tyd om te skilder, maar vanjaar kon sy vir langer tye agter die esel inskuif. Waar sy voorheen die skilderye vir vriende en familie weggegee het, het sy dit nou op sosiale media bemark en verkoop.

Toe Lizanne Barnard haar in Maart vanjaar nader om illustrasies vir ʼn digkunsprojek te doen het sy ingestem. Barnard het mense binne die eerste paar dae van die afsonderingstydperk genooi om hul gedigte vir haar te stuur. Barnard het ʼn paar gekies, getoonset en later besluit om ʼn tuiskonsert op te neem waarin sy die verwerkings sing en só het Stuur my jou woorde se eerste program die lig gesien. Barnard het toe vir Davel genader om illustrasies vir die gedigte te skets.

Vir die eerste keer in haar lewe het Anna die tyd, energie en ʼn ateljee gehad om vir ses maande te kon skilder. Dit was ook ʼn nuwe stap om die skilderye op sosiale media te deel.

“Ek het nooit voorheen die moed gehad nie,” erken sy. “Buiten dat dit my uitgedaag het, is ek dankbaar dat ek daarmee ʼn inkomste kon genereer.”

Davel sê die geleentheid het haar passie vir kuns laat opvlam. Sy beskou dit ook as terapie, en ʼn genade van bo om iets te kon skep terwyl sy in isolasie was. Sy het die afgelope paar maande vier aanlyn veilings gehou en ongeveer 40 kunswerke verkoop.

Haar liefde vir kuns en Afrikaans is van kleins af gevoed. Haar ouers het sonder twyfel die grootste invloed gehad, vertel sy.

“My ouers het alle vorme van skeppende kuns ondersteun,” onthou sy. “Ons huis was altyd vol plate, boeke, oorspronklike kunswerke, en as daar in die dorp ʼn toneelgeselskap of musikant of musiekblyspel was, het ons Daveltjies opgeruk en gaan kyk.”

Sy was ook van kleins af gek oor lees. “Daar is steeds vir my min dinge so lekker. En die feit dat Afrikaanse boeke nou in oudio-formaat beskikbaar is, is wonderlik. Ek luister een boek na die ander terwyl ek skilder,” vertel sy.

Anna Davel se kunswerk getiteld “A Walk in the Clouds” (Foto: Verskaf)

Afrikaans is steeds ʼn onlosmaaklike deel van Davel se loopbaan en lewe.

“ʼn Mens sit met ʼn leeftyd van grootword- en mens word- herinneringe en nostalgie, en alles het Afrikaans as ʼn klankbaan gehad.” Sy vertel dat kuiers op die plaas, skooldae, al die boeke wat sy gelees het (van Saartjie, Trompie en Die Uile tot Etienne van Heerden en Daleen Matthee) haar kleintyd gevorm het.

“Daar is soveel stories en karakters wat vir altyd deel sal wees van my belewingswêreld,” sê sy. “Wanneer ek daaraan dink om na ʼn ander land te emigreer, sal die verlies aan ʼn gedeelde geskiedenis vir my ʼn enorme verlies wees.”

Want hoe verduidelik jy vir iemand anders, in ʼn ander land en in ʼn ander taal, van HA Fagan se “Huisie by die see”, Koos Kombuis se “Almal wil ʼn huisie by die see hê”, Breyten se “Rooiborsduif” of Ouboet se “Howzit, Pa! Howzit, Ma!” en ʼn stywe rooi sweetpak?

“Jy kan nie,” sê sy. “Afrikaans is soos om asem te haal.” Sy voeg by dat van haar gunsteling-woorde in Afrikaans woorde soos “tameletjie”, “gemors”, “fantasties”, “wonderbaarlik”, “magtig”, “donderweer”, “klakous” en “oerknal”, is.

Davel is Saterdag (14 November) in die Atterbury-teater in Pretoria in Kuns en klank, ʼn Maroela Media-produksie, te sien.

Voordat Davel, Jannie Moolman, Saarkie, Lizanne Barnard en Leon Gropp gehore met hul musiek gaan bekoor is daar ook uitstallings van die werk van Davel en Lidi de Waal. Die nimlike Lizz Meiring is die gasvrou. Die deure maak om 18:00 oop vir die kunsuitstalling en die vertoning begin om 19:00. Die vertoning is 90 minute lank. Kaartjies kos R195 per persoon en is aanlyn by iTickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.