Afrikaans is groot Vol. 6

Afrikaans is groot 6Toe die algehele topverkoper-CD’s van 2013 teen die einde van verlede jaar op RSG aangekondig is, het die versamelalbum Afrikaans is groot Vol. 5 vriend en vyand verras deur met die algehele eerste plek weg te stap. Daardie album was byna ‘n jaar lank op die trefferslys, maar niks hou vir ewig nie en die sesde volume in hierdie gewilde reeks is onlangs vrygestel.

 Soos gewoonlik is daar snitte op hierdie versameling wat nêrens anders te kry is nie, soos die eerste twee snitte. Juanita du Plessis en Theuns Jordaan is twee van ons land se gewildste kunstenaars, nie net afsonderlik nie, maar ook as ‘n sangpaar. Hul jongste treffer, Ek sal, is deur Johan Oberholzer, geskryf en is reeds besig om gewild te word. Albei Juanita en Theuns se albums is tot dusver voor gehore opgeneem, en hopelik sal hulle hierdie keer ‘n ateljee-album vrystel. Eden het nog nie weer ‘n album sam opgeneem sedert hul versameling Dekade vier jaar gelede vrygestel is nie. Op Afrikaans is groot Vol. 5 het hulle egter hul eerste nuwe snit sedertdien, Superhro, ingesluit, en nou het hulle dit opgevolg met Somer van ons lewe, wat Christoph Kotze saam met Johan Vorster en Ewald Coleske geskryf het.  Karlien van Jaarsveld is volgende met Hande, die eerste treffer vanaf haar jongste album, Uitklophou. Die derde eksklusiewe snit op dié versameling het ook al ‘n groot treffer geword. Johan Vorster het Swart koffie vir Corlea Botha geskryf, en hierop wys Corlea maar net weer dat sy die regte besluit geneem het om weg te breek van Rudi Claase af.  Dewald Wasserfall het die afgelope jaar groot sukses met sy album, Vergeet wat jy weet van liefde, behaal, en Eendag as ons groot is, was een van die treffers wat hierdie album opgelewer het.  Die titelsnitte van Jay en Bobby van Jaarsveld se onderskeie albums, Dis hoe ons rol en Wat geld nie kan koop nie, was verlede jaar albei groot treffers.  Juanita du Plessis se album, Jy voltooi my, het minstens vyf treffers opgelewer, maar die titelsnit is hier ingesluit.

 

Elvis Blue het aanvanklik sukses met Engelse snitte soos Things my father said en Lifline behaal, maar met sy eerste Afrikaanse snit, Rede om te glo, het hy met die intrapslag die kol getref. Bok van Blerk het einde verlede jaar sy eerste album in drie jaar vrygestel, en Van Hings is die eerste van twee van sy treffers wat ingesluit is. Nog ‘n kunstenaar wat na ‘n lang stilte terug op die toneel is, is Theuns Jordaan. Deur die winters is een van twee snitte van sy mees onlangse Afrikaanse album, Roeper, wat op hierdie versameling voorkom. Riana Nel se jongste treffer, Tyd om te lewe, is al op die versameling Trots Afrikaans Vol. 7 ingesluit, maar nugter weet wanneer sy weer ‘n CD gaan vrystel.  Steve Hofmeyr het drie jaar laas ‘n CD vrygestel, maar Blou ballon, wat op sy album Duisend en een, at vier jaar gelede verskyn het, voorgekom het, is hier ingesluit. Gerhard Steyn het vyf jaar gelede groot sukses met Baby tjoklits behaal, maar sedertdien het hy nog nooit weer so ‘n groot treffer gehad nie. Sy bydrae tot hierdie versameling is Parfuum, die eerste treffer vanaf sy mees onlangse album Brood en melk. Ampie du Preez het homself die afgelope jaar as solo-kunstenaar gevestig nadat hy voor die tyd by verskeie ander projekte betrokke was. Niks en niemand is die titelsnit vanaf sy jongste solo-album, en het ‘n groot treffer geword.  Bobby van Jaarsveld en Riana Nel het saamgespan vir Eens in ‘n leftyd, vanaf Bobby se jongste album; hopelik sal hulle meer gereeld saam sing. Pieter Koen was lank stil, maar sy nuwe album word binnekort vrygestel. Man van staal, geskryf deur Johan Oberholzer, is seker een van die heel beste snitte wat hy tot dusver opgeneem het; dit het beslis meer om die lyf as ‘n hele aantal van sy vorige treffers. Die Heuwels Fantasties is seker die een groep wat die gaping tussen alternatiewe- en kommersiële musiek die beste oorbrug, en Beloofde land was seker hul grootste treffer tot nog toe. Jak de Priester, wat deesdae ook die aanbieder van die televisiereks Reis na gister is, het verlede jaar sy jongste album vrygestel, en die woorde van die enigste treffer wat dit tot dusver opgelewer het, Fyn lyn, laat jou dink. Die laaste snit op die eerste CD is Jay en Lianie se pragtige treffer Rug teen die muur.

 

Die tweede CD skop af met By jou, Theuns Jordaan se tweede bydrae tot hierdie versameling. Riana Nel se eerste kommersiële album, Die moeite werd, was  ‘n reuse sukses, en Dans was een van die belangrikste redes daarvoor. Hierdie snit is dalk al omtrent drie jaar oud, maar dit bly mooi. Riana se sangmaat op Eens in ‘n leeftyd, Bobby van Jaarsveld, is volgende met ‘n Vrou wil dit hoor. Hart vol drome is die tweede bydrae van Junaita du Plessis en Theuns Jordaan, en dit was die titelsnit van hul mees onglanse duetalbum.  Robbie Wessels was die laaste tyd ‘n bietjie stil, maar hy het die rol van die skoolhoof in die musiekrolprent As jy sing vertolk. Macarena mambo was egter ‘n groot treffer vir hom, en dit klink nog net so goed soos die eerste keer toe dit vrygestel is.  Die klank wat my hart maak kom vanaf Dewald Wasserfall se album, en dis eintlik snaaks dat dit nog nie veel radiolugtyd gekry het nie. Adam het tot dusver twee albums vrygestel, en ironies genoeg is hul bydrae tot hierdie versameling, Gebore om jou lief te hê, geskryf deur Joe Foster, wat die groep onlangs verlaat het. Eden se tweede blydrae is Kwart oor vyf, wat seker een van hul grootste treffers tot dusver was. Johan C. Venter was voorheen lid van die a capella-groep Flip a coin, maar Oë soos pêrels was sy eerste solo-treffer.  Joe Niemand het ‘n groot treffer met Ek sal nie bang wees nie gehad, maar Genoeg is genoeg, die titelsnit vanaf sy jongste album, is hier ingesluit. Vicky-Ann Serfontein het hoofsaaklik as sangers van Christelike musiek bekendheid verwerf, maar sy het Maybe baby vanaand vir karlien van Jaarsveld geskryf.  Soms sien jy my is een van die treffers wat Jay se eerste solo-abum, opgelewer het. Seker die oudste snit op hierdie versameling is Bel bel bel, een van Lianie May se heel eerste treffers. Dis hoog tyd dat sy weer ‘n nuwe CD vrystel. Die Campbells se Yvonne staan uit as een van net twee bestaande snitte waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is.  Klein tambotieboom was seker die groot treffer vanaf Die Heuwels Fantasties se eerste album, en is intussen ook in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Hoe wys ‘n man sy hart is die titelsnit vanaf Vaughan Gardnier se tweede album. Hy het dit saam met Sean Else geskryf en hy het dit op Sean en sy vrou Carla se troudag gesing.  Die laaste snit op die versameling is Dans my na die liefde toe, Koos van der Merwe se Afrikaanse weergawe van Leonard Cohen se Dance me to the end of love.

 

Soos gewoonlik bied Afrikaans is groot Vol. 6 iets vir elke smaak, en daar is geen rede hoekom hierdie versameling nie vir die grootste gedeelte van 2014 ‘n topverkoper kan wees nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.