Afrikaans is Groot, Groter, Grootste!

afr_2014_8Die sesde jaarlikse Afrikaans is Groot-konsertreeks het pas weer die balke gelig by Moreletapark Ouditorium met agt massiewe konserte oor ’n tydperk van drie weke. Ons het agter die skerms gaan loer saam met vervaardiger en regisseur Barry Pretorius.

Wat was vanjaar se hoogtepunte?

Ek het die konsert aanmekaargesit – ek kan nie een kind voortrek nie! Maar oorkoepelend dink ek die groot teatrale nommers wat amper soos ouskool-musicals was, met baie rekwisiete en dansers, het die wow-oomblikke geskep. Dit gaan oor die musiek, en dit is wat AIG spesiaal maak. Die songs is net so lekker, en daar is verskillende genres, van pop tot alternatief en rock, selfs ’n bietjie country … om almal mee te sleur.

Het julle vanjaar enigiets anders gedoen as verlede jaar?
Ek dink daar was meer substansie as in die verlede; al is dit ’n show van treffers, het dit nie net gegaan oor ligte kommersiële popmusiek nie. En wat die aanbieding betref, is dit elke jaar natuurlik anders, en om die verhoog en al die elemente daarvan te bou was soos ’n legkaart. ’n Deel is in Doebai aanmekaargesit, ’n ander deel in Holland, nog een in Duitsland … wat die tegniese aspekte betref, vergelyk AIG nou met vertonings in Las Vegas of New York. Vir een nommer het ons ’n donderstorm met reën op die verhoog geskep, regte, egte water wat uitsak oor die verhoog! Die vervaardigers van X Factor in Londen het ons met die logistiek daarvan gehelp.

Hoeveel kaartjies is altesaam verkoop? 
Daar is net meer as 80 000 kaartjies verkoop! Die kaartjieskantoor het in Maart oopgemaak en alles is binne twee dae uitverkoop. Die verkeer op die webwerf het gewys dat die vraag van so ’n aard was, dat ons 300 000 kaartjies sou kon verkoop. Ons het ’n maand voor die tyd nog twee konserte bygevoeg ter wille van ’n ekstra 15 000 mense. Ek het onlangs verneem dat net Justin Bieber en Lady Gaga se konserte ʼn groter vraag na kaartjies gehad het as AIG!

Wat is die grootste uitdagings om so ’n groot show aan te bied?
Wel, uit die oogpunt van ’n regisseur, is dit om die vlak van die vermaak heeltyd te verbeter. Dis ’n uitdaging om elke keer vindingryk te wees en met nuwe konsepte en nuwe kreatiewe idees vorendag te kom. Maar ons kry dit elke jaar reg, en ek glo dit is omdat dit vir niemand net ’n werk is nie. Ja, AIG is ’n besigheid, maar almal wat betrokke is, het ’n ontsettende liefde vir musiek en vir Afrikaans. Ons bestee letterlik maande om idees te ontwikkel en te poleer, ons beraadslaag met die kunstenaars om vir hulle spesifieke gehore presies te probeer gee wat hulle die meeste sal “wow”.

 En op tegniese vlak? Wat is die onvoorsiene krisis waarvoor julle die bangste is, en hoe berei julle daarop voor? 
Ons het tegniese planne vir alles en vir elke moontlike ding wat kan gebeur. Drie stelsels loop heeltyd terselfdertyd, sodat as iets skeefloop met stelsel een, kan stelsel twee seepglad oorvat sonder enige onderbrekings. Ons gebruik byvoorbeeld glad nie Eskom-krag nie, omdat ons nie kan kanse waag met onderbrekings nie, so daar is verskeie 10 000 liter-dieselopwekkers wat die hele vertoning van krag voorsien.

 Hoekom juis Moreletapark Ouditorium?
Dit is die grootste teater in die land, en kan 7 500 mense huisves; en dis ook baie sentraal vir mense van oor die hele Gauteng. As jy van ver af inry vir een van die middagkonserte kan jy die aand weer terug huis toe ry.

 Hoe het Atterbury Trust by Afrikaans is Groot (AIG) betrokke geraak?
Ons het Atterbury so twee jaar gelede genader om betrokke te raak as borg. AIG is die grootste Afrikaanse geleentheid wat jaarliks in die land aangebied word, en omdat Atterbury so ’n sterk voetspoor in Pretoria het, het dit sin gemaak. AIG is baie duur om aan te bied, so ons is heeltemal afhanklik van borge soos Atterbury Trust, wat graag belê in ons taal en in die Afrikaanse kultuur.

 Wat is volgende vir Afrikaans is Groot?
Ons gaan volgende Maart vir die eerste keer Kaap toe, met presies dieselfde konsert en dieselfde kunstenaars. Dit gaan plaasvind by die Grand West Casino-teater wat 5 000 sitplekke het, en ons gaan drie vertonings hou. Kaartjieverkope sal volgende week begin.

 AIG IN SYFERS:

Getal kaartjies verkoop: 80290

Getal kunstenaars: 21

Getal liedjies: 32

Getal grimeerkunstenaars agter die skerms: 8 asook 5 haarstiliste

Getal mense aan diens agter die skerms by elke konsert: 352

Getal mense in die orkes: 20

Volgende Afrikaans is Groot-konserte: 17 en 18 Maart, by Grand West Casino in Kaapstad

 

Artikel verskaf deur Atterbury Trust – http://atterburytrust.org/

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

foxi ·

2014 se Afrikaans is groot, was nie vir my so goed nie. Die dansers agter was nie gepas agter die sangers nie. Jammer……….
Corlia was egter uitstekend!

Mvs ·

Was my 1ste konstert was ongelooflik mooi! So bly ons kon dit bywoon! Was altyd n droom sal verseker weer gaan! Baie dankie aan almal wat n bedrae gelewer het!

ALTA VAN ZYL ·

AIG 2016 was fenomenaal! Ek het as trotse Suid-Afrikaner daar uitgestap, verstom oor ons fantastiese talent. Ek kan nie uitsonder nie… almal was ongelooflik!!!! Ek wonder of my mede-Suid-Afrikaners besef hoeveel ywer, oefen, opofferings, reelings, stres, ens ens met so ‘n massiewe projek gepaardgaan. Kom ons hou op om te kritiseer en geniet en waardeer wat aan ons gebied word. Welgedaan almal wat betrokke was – sommige van ons waardeer dit opreg!
DOEN SO VOORT!!!

Pieter ·

Die enigste optrede tydens die vertoning wat ‘n slegte smaak in die mond gelaat het, was Emu Adams se onder die belt praatjies en suggesties. Dit was veronderstel om ‘n kwaliteit opvoering vir die hele gesin te wees en sou nader aan 9/10 gekom het sonder sy bydrae.

Zuzu ·

Dit was my eerse keer by AIG… en verseker nie die laaste nie!! Ek was MAL oor die HELE show… van begin…Emu… to einde!
Dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.