‘Afrikaans is groot’-kaartjies vir Kaapstad uitverkoop

afrikaans-is-grootKaartjies vir die Afrikaans is groot-konserte in Kaapstad is amptelik uitverkoop.

“Ons kan net die publiek bedank vir hul getroue ondersteuning, en ons kan nie wag om hierdie produksie na Kaapstad te neem nie,” het Arnold Coleske, organiseerder van die konsert, gesê.

Afrikaans is groot maak vir ’n vierde keer ’n draai in die Moederstad wanneer dit op Vrydag 17 Maart en Saterdag 18 Maart by die Grand West Casino te sien is.

Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Jannie Moolman, Corlea, Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Lianie May, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Jay, Karen Zoid, Laurika Rauch, Riana Nel en Bok van Blerk is almal saam op één verhoog. En natuurlik wag daar ook so ’n paar ander verrassings op konsertgangers.

Afrikaans is groot is ’n musiekkonsert wat sedert 2012 aangebied word en bied jaarliks nie net iets vir die oor nie, maar ook iets vir die oog. Goeie klank, uitstekende beligting en artistieke toevoegings maak van dié konserte ’n trekpleister vir oud en jonk.

“Die Afrikaanse gemeenskap in die Kaap is baie lojaal teenoor Afrikaanse musiek, daarom het ons besluit om die konsert ook daar aan te bied.” Volgens Coleske is hierdie nie net ’n konsert nie, “dit is ʼn produksie wat Afrikaanse musiek vier”.

Afrikaans is groot word Vrydag om 19:00 en Saterdag om 13:00 en 19:00 aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.