Afrikaans is Groot op pad na die Moederstad

Steve Hofmeyr tydens die AIG-konsert in Pretoria. (Foto: Afrikaans is Groot)

Die gewilde musiekproduksie Afrikaans is Groot (AIG) word dié naweek by die Grand Arena by Grandwest Casino in Kaapstad aangebied.

Luidens ʼn persverklaring van AIG is die vraag na kaartjies so oorweldigend dat daar – selfs nadat die organiseerders besluit het om ’n vierde Afrikaans is Groot-konsert op Sondag 18 Maart in Kaapstad aan te bied – nou slegs ’n beperkte hoeveelheid kaartjies beskikbaar is.

“Kaartjies vir die vertonings verkoop beter as enige jaar vantevore,” het Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot, luidens dié verklaring gesê.

Musiekliefhebbers kan uitsien na optredes deur Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, Jay en nog véle van Suid-Afrika se topkunstenaars. “Steve is baie waaghalsig gedurende dié vertoning,” het Hargroves verklap.

Hargroves het gesê konsertgangers kan uitsien na ou en nuwe treffers en “sal in vervoering wees met al die spesiale effekte wat tydens die vertoning gebruik word”.  “Daar is ook vele verrassings en een daarvan is ’n huldeblyk aan Gé Korsten wat op ’n baie spesiale wyse ook deel word van die vertoning deur ’n fotografiese hologram-tegniek,” het Hargroves bygevoeg.

Volgens AIG woon ongeveer 85 000 konsertgangers Afrikaans is Groot in Pretoria by, wat dit die grootste musiekproduksie in Suid-Afrika maak.

“Die vierde Afrikaans is Groot-konsert in Kaapstad bewys dat Afrikaans beslis nog nooit só groot soos nou in die Moederstad is nie,” het Hargroves gesê.

Die immergewilde Afrikaans is Groot-musiekproduksie wat in Maart by die Grand West Casino se Grand Arena plaasvind, is só gesog dat selfs van die kunstenaars in dié produksie besluit het om hul eie spesiale gaste te nooi deur middel van sosiale media.

Monique Steyn het haar rolmodel, Mynie Grové, genooi.

“Dit is baie gepas, want Mynie het juis by die Grand West Casino ’n paar motiverende woorde in my oor gefluister,” het Monique vertel.

Die veelvuldige Suid-Afrikaanse tydrenbestuurderkampioen, Sarel van der Merwe, is genooi deur Deon van der Merwe van Touch of Class, terwyl Arno Jordaan seker gemaak het rugby word ook verteenwoordig deur die Stormer-spelers Eben Etsebeth, Jano Vermaak en JJ Engelbrecht te nooi.

Corlea Botha het vertel sy is ’n baie groot aanhanger van Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, en het hom genooi, want sy wil spesiaal vir hom sing.

Afrikaans is Groot vind op 16, 17 en 18 Maart in die Grand Arena by die GrandWest Casino in Kaapstad plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers- en House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000. Bespreek ook aanlyn by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.