‘Afrikaans is Groot’ se manne spog met blinkste vere

Dewald Wasserfall. Foto: Albert/PixelPro.

Dit is ’n instelling dat Afrikaans is Groot-konsertgangers jaarliks stomgeslaan word tydens dié produksie, want nie net word die grootste kunstenaars op een verhoog in aksie gesien nie, maar die klank, beligting en spesiale effekte is verstommend.

Jy mag by die konserte maar ook die boek op sy baadjie takseer, want elkeen van dié kunstenaars se uitrustings word spesiaal ontwerp vir hul spesifieke nommer – en daar word seker gemaak dat dit soos ’n handskoen pas!  Die manne is jaarliks ook besonders sag op die oog, en net soveel beplanning gaan in hul uitrustings soos met die dames s’n, voor hulle gereed is om op die verhoog te pronk.

Vir Lynn Traynor, direkteur van Look of Lynx, wat verantwoordelik is vir al die manlike kunstenaars, die koor en orkes se uitrustings, is die grootste uitdaging om die klere perfek volgens die kreatiewe opdrag te kry terwyl dit nog steeds met die kunstenaar se persoonlikheid versoen word.

Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte, is die kreatiewe brein agter alles wat jy op die verhoog sien en dit is ook hy wat die ontwerpers, soos Lynn, die opdragte gee en verduidelik watter kleurskema en tema hy vir die spesifieke nommer in gedagte het.

“Nadat ek al die inligting by Barry gekry het, begin ek met ontwerpe en idees en lê dit dan aan hom voor. Sodra hy dit goedgekeur het, begin die lekkerste deel vir my – om die materiaal te kry en alles bymekaar te sit,” het sy vertel.

Die uiteinde is dat die manne soos Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Dewald Wasserfall en Jay asems wegslaan terwyl hul kleredrag die hele verhoog se tema aanvul.

Vanjaar se konsertgangers kan hulle regmaak om hul gunstelingkunstenaars weer uitgevat op die verhoog in aksie te sien.

Afrikaans is Groot 2019 vind op 22 November om 19:30, 23 November om 13:00 en 19:30, 24 November om 13:00, 28 November om 19:30, 29 November om 19:30, 30 November om 13:00 en 19:30 en 1 Desember om 13:00, by die Sun Arena by Time Square in Pretoria, plaas.

Enkele kaartjies vir die konsert op Donderdag, 28 November, is nog beskikbaar. Besoek gerus Computicket, aanlyn of Shoprite/Checkers en House & Home-winkels. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derdepartye wat kaartjies aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Droogtehulp ·

Hopelik gaan iets van die opbrengs van so ‘n weelderige konsert na al ons boere wat ly onder droogte. Sien “Wie se Droogte is dit?” artikel ook in Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.