Afrikaans is Groot vlieg soos die kraai reguit na Mosselbaai

Vir die heel eerste keer ooit gaan die gesogte Afrikaans is Groot-konsert see toe en ondersteuners kan solank regmaak om deur die grootste kunstenaars, met hul grootste treffers, vermaak te word. Dié Afrikaans is Groot Somerfees word met trots deur JOOX in Desember op Mosselbaai aangebied en sal beslis die jaar op ’n hoogtepunt afsluit.

“Ons praat nou al vir vyf jaar daaroor om Afrikaans is Groot in ’n fees-formaat aan te bied en na ons lojale ondersteuners in die land te neem,” vertel Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte.

“Mosselbaai was nog altyd in ons visier en ons skop daar af. Daarna gaan ons dié fees ook later in ander streke aanbied,” het hy gesê.

Musiekliefhebbers kan solank uitsien na Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Demi Lee Moore, Bok Van Blerk, Snotkop, Riana Nel, Elvis Blue, Jay, Tarryn Lamb, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Dewald Wasserfall, Corlea, Ruhan du Toit én Bobby van Jaarsveld in ’n produksie wat nié misgeloop kan word nie.

Met die belofte dat hierdie kunstenaars hul grootste treffers gaan sing, sal onder meer Steve met sy “Pampoen”, Corlea met “Swart Koffie”, Bobby met sy liedjie “Spieëltjie”, Karlien met “Jakkals Trou Met Wolf Se Vrou” en Riana Nel met haar “Timbuktu” konsertgangers op die punte van hul stoele hou.

Die organiseerders het vertel dat hulle uitsien om met die inwoners van Mosselbaai en die omliggende omgewing hande te vat en die gemeenskap betrokke te maak by die JOOX Afrikaans is Groot Somerfees. Die plaaslike gemeenskap sal ook baat by die ekonomiese inspuiting.

Die JOOX Afrikaans is Groot Somerfees-konsert vind op 28 Desember by die Van Riebeeck Stadion plaas. Kaartjies kos R150 vir volwassenes, R75 vir kinders onder 12 en kinders onder 6 sal gratis toegang kry. Kaartjieverkope het reeds geopen en is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter Nel ·

As Steve daar is, kom ons verseker saam kuier met ons Afrikaner vriende

Hanna ·

Ag Danie kom tog by,en wat doen jy miskien vir Afrikaans. So los Steve uit

Andre C ·

Steve praat die waarheid,reguit.Dit maak die ANC kaders en hulle ondersteuners ongelukkig.Die waarheid maak seer .

Melanie ·

Wat het van Juanita du Plessis geword? Gaan sy nie sing nie?

Osie ·

Aan Danie Basson: en jou absude opemerking kom van waar? Steve IS AIG! Steve & die Coleske’s het AIG begin. As jy nie van Steve hou nie, good for jou. Maar ons wil hom graag daar sien. Punt.

Lynne ·

Nice! Uitstekende klompie kunstenaars wat almal hulle grootste treffers gaan sing. Voorwaar iets om na uit te sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.