Afrikaans is groot, Volume 9

5082782-lDie afgelope klompie jare was die Afrikaans is Groot-reeks versamelalbums topverkopers op die plaaslike mark, en die negende volume in hierdie reeks het pas verskyn.

Soos altyd is daar ’n aantal snitte wat net op hierdie versameling beskikbaar is, en gaan verseker dat dit net so goed soos die vorige volumes gaan verkoop. Een daarvan is Bobby van Jaarsveld se nuwe treffer, “Geloof, hoop en liefde”. Dit het die potensiaal om net so gewild soos baie van sy vorige treffers te wees.

Blackbyrd het al twee albums vrygestel waarop hulle hoofsaaklik country gesing het, maar “Kalm voor die storm” is hul eerste Afrikaanse opname en dit klink beter as wat sommige mense sou dink. Monique het van platemaatskappy verander en Ruhan du Toit, die een helfte van Touch of Class, sing “Hartseer” saam met haar. Soos met die eerste twee snitte is dit ’n komposisie van Johan Oberholzer, maar ’n mens kan net wonder oor die liriek: “Is jy hartseer want jou hart is seer; is jy raadop want jou raad is op?” Sy lewer egter later nog ’n eksklusiewe bydrae tot hierdie versameling.

Andriëtte het die afgelope tyd ’n aantal treffers gehad, waarvan “Sewe oseane” een van die heel grootstes was. Die volgende twee snitte is die titelsnitte van twee uitstekende albums wat die afgelope twee jaar verskyn het, naamlik “Êrens in die middel van nêrens” van Elvis Blue en “Jy sal weet” van Riana Nel. Arno Jordaan het lank laas ’n nuwe album vrygestel, maar “Mars Pluto Venus” gee sy aanhangers hoop dat dit gou weer sal gebeur.

Brendan Peyper is een van die mees belowende nuwelinge wat die afgelope jaar of twee op die toneel verskyn het en die titelsnit van sy album, “Stop, wag, bly nog ’n bietjie”, was ’n groot treffer. Ongelukkig is dit nie alles goeie nuus nie. Nadat Ampie se deurbraak-album Niks en niemand goed ontvang is, was sy nuwe een, Geheim, ’n teleurstelling, soos die swak vertonings van die enkelsnitte op trefferlyste landwyd getuig. “Draai op” was die eerste enkelsnit, en is hier ingesluit.

“Treine” is Monique se solo-bydrae tot hierdie versameling en ’n bewys dat sy as kunstenaar verbeter en gegroei het. Dit is egter nog nie seker wanneer haar volgende CD vrygestel word nie. Vir altyd was een van die gewildste Afrikaanse rolprente wat die afgelope jaar verskyn het, en Joshua na die Reën se gelyknamige temaliedjie het ’n groot treffer geword.

Loki Rothman het nog nie soveel sukses behaal nie, maar die feit dat hy saam met Laurika Rauch op haar nuwe opname van “Blou” sing, asook sy bydrae tot hierdie album, “Ons op ons eie” beteken dat dit gou kan verander.

Twee was die wenners van die eerste Afri-Visie-kompetisie en “Piekniek vir twee” was die titelsnit van hul eerste album. Douvoordag het al twee enkelsnitte uitgereik, waarvan die nuwe een, “Desembers” hier ingesluit is. Die laaste snit op die eerste CD is “Waar was jy?”, wat Karen Zoid ter viering van Huisgenoot se eeufees geskryf het.

Die tweede CD begin met “Mooi”, Elvis Blue se tweede bydrae, wat oorspronklik op sy album Afrikaans voorgekom het. Laurika Rauch se eerste album in twee jaar is pas vrygestel en sy het “Ek het ’n huisie by die see” nuut opgeneem. Die nuwe opname is hier ingesluit. “Selfde bed” is nog ’n snit vanaf Riana Nel se nuwe CD, maar dit is nog nie seker of dit ’n enkelsnit gaan wees nie omdat insluiting op hierdie soort versameling nie trefferstatus waarborg nie.

“Middernagserenade” was wel die groot nuwe treffer vanaf Bobby van Jaarsveld se versamelalbum wat vroeër vanjaar verskyn het. Juanita du Plessis het nie vanjaar ’n album vrygestel nie, hoewel die titelsnit van haar mees onlangse een, “Toe staan die wêreld stil”, ingesluit is. Pleks daarvan het haar dogter Franja haar loopbaan aan die gang gekry met haar debuutalbum, wat tot dusver die treffer “Stad van verlange” opgelewer het.

Irene-Louise van Wyk het iets radikaal anders gedoen met “Vergeet van my”; dit is ’n liedjie waaroor jy mal is of waarvan jy niks hou nie. Joe Foster het groot sukses as solo-kunstenaar behaal nadat hy die groep Adam verlaat het, en “In die reën vir jou” is besig om teen verskeie trefferlyste uit te klim. Een van die hoogtepunte op die album is “Beloftes” wat die Campbells saam met Cordelia sing en ook op hulle nuwe album voorkom.

Die mede-aanbieder van die televisieprogram Oppistoep, Andries Vermeulen, is ook ’n sanger en op Elvis Blue se komposisie “Harte vol” kom hy tot sy reg. Op “Hoe moes ek weet?”, span Joe Foster saam met Johan C Venter. Johan het lank laas ’n album vrygestel; miskien het dit tyd geword dat dit weer gebeur. “Reis na gister” het die temaliedjie van Jak de Priester se gelyknamige televisieprogram geword en dis goed dat dit hier ingesluit is. Die laaste snit op die tweede album is die titelsnit van Touch of Class se suksesvolle nuwe album 100 000 perde.

Daar kan geen twyfel bestaan dat die negende Afrikaans is groot-versameling net so gewild soos die vorige agt volumes kan wees nie. Daar is iets vir elke smaak en dis lekker om te sien dat daar ook ’n paar eksklusiewe snitte ingesluit is wat die album se gewildheid nog verder sal verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Ek is dol oor Afrikaanse Musiek, alhoewel my Afrikaans beperk is. Dis net ‘n tragedie dat daar kunstenaars op CD’s soos Afrikaans is Groot is wat werklik nie daar hoort nie. Hulle kan nie sing nie, hul styl wys hulle het geen etiket of mens wees nie. ….. Ai tog, hulle sing in Afrikaans maar hulle is ‘n skande vloek op die Afrikaner nasie.
WEL GEDAAN MET PRAG LIEDERE EN FANTASTIESE MENSIES…. Net jammer vir van die res! Keurders moet meer aandag aan die keurings proses skenk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.