‘Afrikaans is Groot’ weer Kaap toe

afrikaans-is-grootNá 11 uitverkoopte Afrikaans is Groot-vertonings in Pretoria in 2016, maak dié gewilde konsertreeks ’n draai in die Moederstad – vir ’n vierde keer.

Op Vrydag 17 Maart en Saterdag 18 Maart is dié konsert by die Grand West Casino in Kaapstad te sien.

Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Jannie Moolman, Corlea, Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Lianie May, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Jay, Karen Zoid, Laurika Rauch, Riana Nel en Bok van Blerk is almal saam op één verhoog. Natuurlik wag daar ook so ʼn paar ander verrassings op konsertgangers.

Afrikaans is Groot is ’n musiekkonsert wat sedert 2012 aangebied word, en beloof jaarliks om nie net iets vir die oor te bied nie, maar ook iets vir die oog. Goeie klank, uitstekende beligting en artistieke toevoegings maak van die konsert ’n trekpleister vir oud en jonk.

“Die Afrikaanse gemeenskap in die Kaap is baie lojaal teenoor Afrikaanse musiek, daarom het ons besluit om die konsert ook daar aan te bied,” sê Arnold Coleske, organiseerder van die konsert. Volgens Coleske is dit nie net ’n konsert nie, dit is ’n fees van musiek.

Dis reeds die vierde konsert wat in die Kaap aangebied word, en nes sy voorlopers, Afrikaans is Groot 2013, 2014 en 2015, wat tans ook Woensdae om 20:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) gebeeldsaai word, gaan dié vertoning jou laat snak na asem.

Kaartjies verkoop jaarliks ook soos soetkoek, en mense moet spring om kaartjies in die hande te kry. Binne ’n paar uur is die meeste kaartjies verkoop. “Ons moet elke jaar meer konserte byvoeg, want die publiek soek meer,” vertel Coleske. “Konsertgangers is baie lojaal, en ons kry net goeie terugvoer van die publiek.”

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by TicketPro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nenna ·

Hierdie konserte kan ek nie meer bywoon nie want die musiek is só hard dat ek hartkloppings kry ‘n rukkie nadat die konsert begin. Ek sal graag wil weet hoeveel desibels die klank is want ek is seker dat die ver oor 100 desibels is. Ek verneem as jy langer as 14 min. daarna luister jy alreeds permanente gehoorverlies opgedoen het. Dit sal interessant wees as ‘n kenner ‘n artikel daaroor skryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.