Afrikaans word herlaai

Afrikaans-herlaai

Afrikaans Herlaai bestaan uit Dehan von Solms, Carlyn Fransman, Eunice Kemp en Whaden Johannes. Foto: Facebook.

Deur die jare was daar al ʼn aantal pogings om Afrikaanse musiek meer aanvaarbaar vir ʼn jonger gehoor te maak.

Veral die CD Een honderd per sent Afrikaans dans wat omtrent vyftien jaar gelede verskyn het, asook die reeks Stamp-CD’s het probeer om dit reg te kry, maar op die lang termyn was dit nie regtig so suksesvol nie.

Nou is daar egter ʼn nuwe projek met ʼn totaal andere benadering; Afrikaans Herlaai. Die uitvoerende vervaardiger, Douw Steyn, het besluit om vier jong en opkomende stemme te gebruik vir hierdie album en konsert, en hy het die musikale verwerkings saam met Joshua Oosthuizen, Herman Steyn en die huidige leier van Noot vir Noot se Musiekfabriek, Jaconell Mouton, gedoen.  Die vier kunstenaars wat op die CD gehoor kan word, is Dehan van Solms, Eunice Kemp, Carlyn Fransman en Whaden Johannes.

Die eerste snit op die CD is “Liedjie vir jou”, wat oorspronklik ʼn treffer vir Jannie du Toit was. Dehan het baie beslis sy sangtalent by sy pa, die bekende sanger Dewald van Solms, geërf. Soos sy pa het Dehan ʼn baie goeie baritonstem, en hierdie liedjie pas baie goed by sy stem. Daarby is die musikale verwerking baie goed. Dehan en Eunice sing saam op Sonja Herholdt se groot treffer” Ek verlang na jou”. Weer eens is die musikale verwerking baie goed, en Herman Steyn se vioolspel maak dit iets besonders. Dié wat Lucas Maree se treffer “Droomvrou” ken, sal weet dat dit ʼn rustige liedjie is, maar die musikale verwerking van die nuwe weergawe waarop Dehan sing, is radikaal anders. Hierdie liedjie sal selfs die dansvloere vol kry, maar jy moet maar self besluit of jy daarvan hou of nie. Ek self is mal daaroor, veral omdat dit so anders as die oorspronklike een is, maar ek weet beslis dat daar mense is wat niks daarvan sal hou nie.

Whaden se stem kan vir die eerste keer gehoor word op “Ek wil jou ken”, wat oorspronklik ʼn treffer vir Anneli van Rooyen was.  Eunice sing saam met hom, maar dit is nie waar dit ophou nie. Die rymkletser Hemelbesem kan ook op hierdie snit gehoor word; die verwerking herinner ʼn bietjie aan dié van Snotkop se weergawe van “Dis ʼn land”. Die musikale verwerking van “Lisa se klavier” is selfs nog meer radikaal van dié van “Droomvrou”, en dit sal die Koos Kombuis-aanhangers in hul koffie laat verstik. Hoe ook al, dit sal veral by jonger luisteraars byval vind, en dit is immers die idee agter dié projek. Daar word natuurlik ook hulde aan Anton Goosen gebring, maar die liedjiekeuse is effens eienaardig. “Jy en ek en ons se ons twee” is dalk nie so bekend nie, maar die musikale verwerking, waarop Dehan sing, is uitstekend; dit herinner effens aan dié van Mumford and Sons se treffer “I will wait”.  Weer eens weet ʼn mens nie wat Anton se aanhangers sal dink nie, maar dit laat ʼn mens lekkerkry.

Al vier kunstenaars sing saam op die nuwe weergawe van “Kinders van die wind”, en wat hierdie opname nog mooier maak, is dat die Hoërskool Waterkloof se koor saamsing. Daar is nog ʼn snit waarop dié koor saamsing, maar meer netnou daaroor.  Die volgende snit is Eunice se weergawe van nog ʼn Laurika Rauch-treffer, “Die gang”.  Daar is nog ʼn weergawe van “Ek verlang na jou” ingesluit; hierdie keer sing Eunice dit alleen.  Hierdie weergawe is dalk beter, want ʼn mens is nie seker of dié liedjie so goed as ʼn duet werk nie. Weer eens is dit ʼn snit wat die dansvloere gou sal volmaak.  Whaden en Carlyn sing saam op “Liefling”, en die musiekverwerking is baie rustiger as waaraan ʼn mens gewoond is. Hoe ook al, dit is pragtig.  “Dis nog net jy” is een van Johannes Kerkorrel se minder bekende liedjies; die keuse daarvan is dalk effens eienaardig, maar Eunice se weergawe is uitstekend. Whaden sing Sias Reinecke se bekende treffer “Sproetjies”, en weer eens is die musikale verwerking baie goed. “Ek loop die pad” was seker Amanda Strydom se grootste treffer tot dusver, en Whaden se weergawe daarvan is baie mooi.  Die hoogtepunt van die album is egter die heel laaste snit. Al vier kunstenaars sing saam met Hoërskool Waterkloof se koor op Christa Steyn se komposisie “Hier’s my hand”. Jy kan nie anders as om saam sing nie, en hopelik sal dit een van die treffers vanaf die album word.

Elke keer wanneer ʼn projek aangekondig word wat daarop gemik is om Afrikaanse musiek aan ʼn nuwe gehoor bekend te stel, is daar rede om skepties te wees, omdat dit soms gepaard gaan met ʼn gebrek aan respek vir die oorspronklike kunstenaars.  Met Afrikaans Herlaai is daar egter niks om oor bekommerd te wees nie. Sommige musiekverwerkings sal ouer luisteraars dalk laat wonder, maar oor die algemeen is dit net so goed soos dié van die oorspronklike kunstenaars se opnames, indien nie beter nie. Daarom hoop ʼn mens dat dié projek ʼn reuse sukses sal wees en dat ʼn tweede CD en konsert mettertyd sal volg. Daarby het Afrikaanse musiek vier uiters talentvolle kunstenaars ryker geword; hopelik sal hulle almal later ook suksesvolle solo-loopbane volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.