Afrikaanse digkuns kry vlerke in Australië

Marli van der Bijl is te sien in “Die waarheid oor duiwe”. (Foto: Verskaf)

Die waarheid oor duiwe, ʼn musiekuitvoering met gedigte uit wyle Gisela Ullyatt se pen, word 10 Maart (Donderdag) by Gasworks Arts Parkteater in Melbourne, Australië, aangebied. Suid-Afrikaanse gehore kan ook om 11:00 vir die regstreekse uitsending inskakel.

Musikale verwerkings van Ullyatt-digkuns

Die waarheid oor duiwe is die skeppingswerk van Karien Jordaan en Marli van der Bijl – twee oud-Bloemfonteiners wat mekaar op Facebook ontmoet het en wat albei tans in Australië woon.

Die produksie is gegrond op Ullyatt se gelyknamige debuutbundel wat in 2020 by Protea Boekhuis verskyn het. Dit was Ullyatt se enigste bundel voor sy later dieselfde jaar in die ouderdom van 43 aan kanker dood is.

Van der Bijl vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit Jordaan se idee was om Ullyatt se gedigte te toonset.

Jordaan en Ullyatt het mekaar sedert 2005 geken toe hulle by ʼn jogaklas ontmoet het. “Ek en Gisela het onmiddellik aanklank by mekaar gevind. Ons was albei lief vir woorde, en ek het ʼn groot waardering vir haar digkuns,” sê Jordaan.

Kort ná Ullyatt se dood het Jordaan op ʼn Facebook-groep vir Suid-Afrikaners in Australië gevra of daar iewers in die Melbourne-omgewing ʼn Afrikaanse sangeres is wat die projek saam met haar sou wou aanpak.

“Toe ek my hand opsteek en ons begin gesels, het ek en Karien gou besef ons het eintlik van mekaar geweet en al die jare saam in Bloemfontein gewoon,” sê Van der Bijl. “Ons paaie sou sekerlik iewers daar gekruis het, maar hier werk ons toe vir die eerste keer in Australië saam.”

Die eerste Ullyatt-gedig wat Jordaan getoonset het, was “Voor ek vertrek”. Daarna het nog agt verwerkings gevolg en uiteindelik gelei tot ʼn volwaardige musiekproduksie, getiteld Die waarheid oor duiwe. Die produksie het in Desember 2021 in Warrnambool, waar Jordaan woon, gedebuteer.

“Die waarheid oor duiwe” is ʼn intieme musiekuitvoering met gedigte uit wyle Gisela Ullyatt se pen. (Foto: Verskaf)

Die waarheid oor duiwe is ʼn verwewing van taal en musiek waar Van der Bijl (sopraan) deur Jordaan (klavier, komponis) en Lieze Swart (fluit) begelei word. Dit is ʼn intieme teatervertoning met Engelse onderskrifte wat op ʼn skerm geprojekteer sal word.

Ullyatt se bundel handel oor intieme ruimtes, jeugherinneringe en verlies. Die sentrale tema van die bundel dui op ʼn proses van vervreemding van die alledaagse, toenemende vereensaming, verlies en verlange.

“Die musiek komplementeer hierdie temas met ʼn verskeidenheid van style: van swewende, emosionele melodieë tot ʼn meer humoristiese en opgewekte benadering,” verduidelik Van der Bijl.

Meer oor Gisela Ullyatt

Ullyatt is in 1977 in Bloemfontein gebore en het meestersgrade in Duits en Engels (taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy het haar doktorsgraad aan die Noordwes-Universiteit in 2013 behaal en haar tesis het oor die Amerikaanse digter Mary Oliver, gesien vanuit ʼn Boeddhistiese raamwerk, gehandel.

Sy skryf sedert haar hoërskooldae verse en van haar gedigte is in Nuwe Stemme 5 opgeneem waardeur sy bewys gelewer het van haar vaardighede as digter. Sy en haar man, Tony, het hulle soms besig gehou met literêre vertaling en was deel van die vertaalprojek In a Burning Sea, met Marlise Joubert as samesteller.

Die waarheid oor duiwe word Donderdag (10 Maart) om 11:00 regstreeks vanuit Melbourne in Australië uitgesaai. Die vertoning sal daarna nog 72 uur beskikbaar wees. Klik hier om kaartjies vir die vertoning te koop.

Kyk hier na ʼn voorsmakie van dié aanlyn musiekvertoning:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

monre ·

Ons het dit in persoon bygewoon en dit geniet. Goed om kultuur ver van die huis te beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.