Afrikaanse duo wys hul passie in nuwe video

Wiaan Fourie en Andries Hendrik Potgieter as DZL. Foto: Facebook via DZl

Die musiekgroep DZL het hul liefde vir diere in hul nuutste musiekvideo vir die liedjie “Die hele wêreld” uitgebeeld. Dié liedjie is die eerste van hul nuwe album Realiteit.

Volgens ʼn verklaring is die idee agter dié musiekvideo om die twee lede van die groep, Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie, se passie behoorlik ten toon te stel. “Hulle wys dit deur die ongelooflike werk wat hulle binne die privaat sektor doen om renosterbewaring te verseker,” lui die verklaring.

Tydens ’n onlangse reis na Kenia het die twee manne van DZL die Lewa Wildlife Conservancy besoek wat wêreldbekend is vir die werk wat hulle doen om bedreigde spesies soos renosters en Grévy se sebras te beskerm. Dit is dié geleentheid wat in die musiekvideo gesien kan word.

“Ons was op die punt om terug te ry na ons blyplek, wat sowat vier ure van Lewa is, toe die plaaslike veearts ons vra om hom by te staan met ’n olifant wat ’n stroperspoging oorleef het,” het Andries vertel.

Die twee manne het saam met verteenwoordigers van die organisasie sonder winsbejag Rhino Connect, waarvan DZL ook direkteurs en ambassadeurs is, hulle na die toneel gehaas waar hulle saam met ’n span veeartse die beseerde olifant behandel het.

“Dit was een van die beste ondervindings ooit, en so onverwags! Ons het gehelp om die olifant te monitor en sy ore met water te lawe terwyl die veearts die medisyne toedien. Daar was natuurlik ook ’n bietjie sports, want die olifant het gesukkel om op te staan en ons het hom toe met ’n tou om die tand en ’n bakkie op die voete gekry. Maar toe moes ons hardloop want daardie meneer was reg om te wys wie baas is,” het Wiaan gesê.

“Die liedjie is inspirerend en moedig die luisteraar aan om nie op te hou droom nie. Die musiekvideo besoek ook een van Suid-Afrika se mooiste landskappe naamlik God’s Window net buite Graskop,” lui die verklaring.

Die olifant-ondervinding in Kenia het die basis gevorm van die nuwe enkelsnit wat op DZL se nuwe album Realiteit beskikbaar gaan wees. Die album gaan in Maart/April 2018 op die rakke beskikbaar wees.

Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Artos B ·

Hierdie is twee manne wat nog iets beteken! Hulle maak groot naam en is iets om na te luister! Good one boys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.