Afrikaanse konsert wil hoop saai

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

Ek het onlangs die voorreg gehad om ʼn wonderlike man te ontmoet:  sy naam is Drihan du Plessis. Hy is ʼn skrywer, musikant en argitek. Hierdie man het vroeër vanjaar aan Solidariteit Helpende Hand se deur kom klop met ʼn lied in sy hart.

Ons het geluister, en nou hou ons konsert. Dit is nie sommer net enige konsert nie, dis ʼn hoopsaaikonsert, ʼn simboliese tree van hoop wat persone met gestremdhede vat en hardop sê: “Sing, hoop, weerklink – as ek kan, kan jy.

Van die land se vooraanstaande kunstenaars tree eersdaags tydens die Sing, Hoop, Weerklink-konsert in Pretoria op om hoop te skep en gemeenskappe bymekaar te bring. Dié Afrikaanse opelugkonsert word op 30 November by die Voortrekkermonument aangebied, asook regstreeks op aanlyn platforms uitgesaai.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets, Ricus Nel en Vernon Barnard gaan by die geleentheid optree. Drihan, wat self gestremd is, sal ook tydens die geleentheid sy lied “Sing, hoop, weerklink” bekendstel.

Hier is Drihan se getuienis oor die lied en konsert:

Te danke aan Drihan du Plessis – skrywer, musikant en argitek – se droom word die eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert op 30 November deur Solidariteit Helpende Hand by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied. (Foto: Verskaf)

Op 9 Julie 2021 droom ek dat ek in ʼn kerk sit. Die droom voel so werklik soos ʼn oggendbries. Ek kyk rond in die kerk en soek die res van die mense uit my jeugjare. Almal sit daar. Waar is my oom Herman, wonder ek. My ore en oë soek rond tussen mense wat vreugdevol sing, uit volle bors, sonder kommer. My siel word na die preekstoel gelei, waar oom Herman sing. “Dan sal ons hoor hoe Loftus Versfeld weerklink,” sing hy vreugdevol en uit volle bors.

Ek skrik wakker en besef dit was ʼn droom. Die horlosie sê 05:00. My oom was in daardie stadium, nes baie mense in ons land, in die hospitaal weens Covid-19. Ons het hoopvol gebly. Ek het weer aan die slaap geraak. Om 07:30 daardie oggend bel my ma my wakker. Oom Herman is daardie oggend om 04:45 oorlede.

Die toeval het my vir ʼn uur lank onkant gevang. Het God opsetlik die droom na my kant toe gestuur, of was dit dalk oom Herman self? Dit kan seker ook my onderbewuste wees wat deur die nag met die moontlikheid van my oom se dood geworstel het. Jy mag glo wat jy wil, ek mag glo wat ek wil. Wat ons doen met die goed wat ons glo, is ʼn ander saak. Wat ék wil glo, is dat die droom met ʼn groter doel na my gestuur is.

Ek het opgestaan en besluit ek moet iets doen. Ja, daar is ʼn tyd vir treur, en ons moet hartseer wees, maar soveel mense in ons land was die afgelope tyd al deur hartseer geraak. Soveel mense sukkel om weer ná ʼn terugslag aan te pas. Wat kan ék doen om hulle te help om te besef dat hulle weer sal opstaan, het ek gewonder. Ek het opgestaan en gedoen wat ek weet ek goed kan doen: musiek skryf.

Ek het my hart op papier en in melodie uitgestort, nie in die vorm van ʼn treurmare nie, maar in die vorm van ʼn hooplied.

Nadat ek die lied klaar geskryf het, het ek eers ʼn vriend gebel en my verlies en vreemde blydskap met hom gedeel. Daarna het iets my gelei om meer te doen: dié boodskap moes net vlerke kry. Ek het besluit om vir Helpende Hand te bel, en ek het my droom aan die uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, verduidelik. Twee weke later het ons in ʼn kantoor gesit en saam besluit ons moet hoop aan ons mense bring. Ons het besef dat opstaan en aanpas ná verlies vir baie mense baie moeilik is. Ons het ook besef dat ek, as ʼn persoon met ʼn gestremdheid, geleer het om vinniger aan te pas, want mense met gestremdhede, hetsy van geboorte of weens ʼn gebeurtenis, móét leer om aan te pas.

Dit is waarom ons die Sing, Hoop, Weerklink-konsert so saamgestel het dat almal wat met verlies worstel, kan besef dat dit moontlik is om weer op te staan en aan te gaan.

Ek dra hierdie lied aan alle Covid-19-slagoffers op, asook die mense wat my oom Herman in liefde agtergelaat het. My verhaal is helaas nie uniek nie; ek weet daar is baie mense daar buite met dieselfde lot.

“Sing, hoop, weerklink”

Groen, vars gras, alleen hier staan ek,

heilig stil, ons bymekaarkomplek,

die trom en trompet, het dit lanklaas gehoor,

ʼn klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Ons gedenk die helde.

Ek weet hulle staan hier tussen ons.

Die oues van dae weet, helde val vroeg soms.

 

Sal jou eendag daar vind.

Sal jou mense saambring.

Sal ons kinders grootmaak, soos wat jy goed sou dink.

As ons daar kom, sal ons instap, jou en almal daar vind.

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

ʼn Leeftyd vol trots, klein kinders en nog.

Ek weet jy sal kyk, ek sien jou glimlag skyn.

Jou lig sal ons dra, jou woorde laat hoor.

ʼn Klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Daar sal legendes sing in engelekoor.

 

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

Daar sal legendes sing in engelekoor.

 

Daar is slegs ʼn beperkte aantal kaartjies vir die konsert by die Voortrekkermonument beskikbaar. Mense wat nie self daar kan wees nie, kan dit ook aanlyn kyk. Besoek www.weerklink.co.za vir meer inligting of om kaartjies te bespreek.

Kaartjies kos R130 vir volwassenes en R60 vir kinders tussen sewe en 12 jaar oud. Toegang vir kinders onder sewe is gratis. Kaartjies vir die aanlyn konsert kos R50.

  • Helpende Hand bedank graag die borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. Die hoofborge is Virseker en Dapper Media, asook Maroela Media, wat die mediavennoot vir die konsert is. Die ander borge is Yolande van der Westhuizen Oudioloë, Marius Prinsloo Ortotika en Prostetika en Monument Toyota Wes-Rand.

René Roux is die adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.